Hennie Symington

“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Johannes 5:24

Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na my toe kom sodat julle die lewe kan kry nie …” Johannes 5:39-40

Wat is ons verwagting van die ewige lewe. Soos Hamlet, die prins van Denemarke, vrees ons almal die dood en die onbekende "land van die dode vanwaar geen reisiger al ooit teruggekeer het nie…” Soms lyk dit is asof ons meer besorg is met die ewige lewe en hoe dit daar sal wees, as om ons daarop toe te spits om die weg daarheen te vind en die pad voluit te loop terwyl ons op aarde is.

Sal ons daar tuis voel?  Jesus, wat ons onsekerheid en vrae oor die onbekende begryp, skilder vir ons ʼn prentjie van die Vader se huis. Hy stel ons gerus met die woorde: “In die huis van my Vader is daar baie wonings.” En verder verseker Hy ons dat Hy ons vooruit gaan om ʼn plek voor te berei vir ons. “As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.” (2b). Die ewige lewe beteken dus om tuis te kom in die huis van ons Pa.

Wat ʼn wonderlike vooruitsig is dit vir ons as pelgrims op ons aardse reis om tuis te kom in die huis van ons Vader, vir ewig en altyd. En wat inspireer ons op hierdie reis na die ewigheid?  ʼn Belofte van strate van goud? Nee, die belofte om vir ewig en altyd in die teenwoordigheid van die Een wat heilig, ewig en genadig is te wees. Ons lees ook dat vreugde kenmerkend sal wees van die ewige lewe. God beloof om “al die trane trane af te vee en daar sal geen dood meer wees nie. Ook droefheid en geween en moeite sal daar nie wees, … want, lees ons in Openbaring 21:4, die eerste dinge het verbygegaan.

Gebed: Here, hoe kan ons droom om ooit die hoogte, die diepte en die wydte van u wese en u weë te verstaan. Tog laat U ons toe om ʼn stukkie hemel te sien in u allesomvattende liefde vir ons, sodat ons nie anders kan as om te leef in die hoop op die ewigheid waar ons in volkome harmonie met die Vader, die Seun en die Heilige gees sal wees. Amen