Hennie Symington

Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. So glo ons dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. … daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. 1 Tessalonisense 4:14,17

Wanneer ons met die frase "Jesus het opgestaan uit die dood",gekonfronteer word, het ons nie woorde om dit te verduidelik nie. Hoe moet ons as skeptiese, moderne mense die frase, die opstanding uit die dood verstaan? As ons egter kan aanvaar dat God alles uit niks geskape het (creatione ex nihilo) en ʼn wonderwerk so groot onbegryplik as die van die skepping self kan aanvaar, dan kan ons sekerlik in geloof aanvaar dat die opstanding uit die dood ‘n wonderwerk soos die skepping self is.

Die opstanding van die vlees. Enige poging om die opstanding van die liggaam in simboliese of geestelike terme te interpreteer, beroof dit van enige betekenis. In die Woord lees ons sonder omhaal dat Jesus wat in die vlees begrawe is, en wie se se liggaam vergaan het soos wat enige menslike liggaam sou doen, lewend gemaak is deur goddelike wonderwerking. Net so lees ons in 1 Tessalonisense 4:16 dat “die wat in Christus gesterf het, uit die dood uit (sal) opstaan.”

Gebed: Here, ons sien met verlange uit na die opstanding van die liggaam aan die einde van die tyd wanneer U ons almal by U sal neem om by U te woon tot in ewigheid. Amen.