Hennie Symington

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlosssing deur Jesus Christus.  Romeine 3:23-24

As opregte gelowiges moet ons erken dat daar een ding is wat onomwonde tussen elkeen van ons en ons Skepper staan, en dit is die sonde. Vir baie moderne gelowiges het sonde egter ʼn relatiewe begrip geword, tog is dit die een ding wat ons almal raak. Ons bevind ons deur die bank in die wurggreep van die sonde. Sonde is nie noodwendig dade nie; dit verwys ook na houdings en gesindhede wat skeiding tussen mense bring.

Hoe weet ons wat sonde is? Paulus stel dit baie duidelik as hy sê: "deur die wet leer ʼn mens wat sonde is." (Romeine 2:20c) Daarby is ons afhanklik van die die Heilige Gees om ons te lei en bewus te maak van ons oortredinge. Terselfdertyd maan Paulus ons om mekaar te vergewe en te vertroos wanneer sonde onmin en pyn oor ons pad bring. En “As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook” (v10b),want as Christus ons vergewe het, hou Hy nie ons sondes verewig teen ons nie. So moet ons dan “die wat teen ons sondig vergewe”. (Matteus 6:12)

Waarom laat God sonde toe? Die antwoord is eenvoudig. God het ons meer as net redelose diere gemaak wat deur instink gedryf word. God het die mens na sy beeld geskape volgens sy goddelike plan, en ons met die gawe van vrye keuse bedeel wat beteken dat ons kan kies om deel te hê aan ʼn band van liefde met God, of om ons rug op hom te draai. Dit is die wonder van God – dat Hy ons vryheid van keuse bied wat ons uitdaag om God en goedheid te kies, of sonde en bose bande in alles wat ons doen en sê. Dit, my liewe lesers, is die prag en die las van menswees.

Gebed: Here hoe wonderlik dat U ons as selfstandige wesens geskape het wat kan kies vir of teen U. Vergewe ons dan Here, dat ons so vasgevang is in die sonde dat ons telkens die verkeerde keuses maak.  Dankie dat U ons vrymaak van die sonde deur u Seun te stuur om die sondelas te dra. Amen