Hennie Symington

Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanwëe hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. Hebreërs 11:1-2

In die hoofstroom Protestantse kerke sou hierdie frase geïnterpreteer kon word as ʼn verwysing na die tradisie waar sekere gelowiges soos Moeder Teresa en ander hooggeagte gelowiges deur die eeue heen, deur die kerk gekanoniseer of heilig verklaar word op grond van hulle geloofsdade. Die sinsnede, "die gemeenskap van die Heiliges",is heelwat later (350-500 nC.) by die belydenis gevoeg.  Al wat dit beteken is dat almal, of dit ʼn groep of enkeles is, deel het aan Christus en sy gawes. Hieruit is dit duidelik dat ons verhoudings met mede-gelowiges gekenmerk moet word deur die liefde van Christus.

Die Artikel, “die gemeenskap van die heiliges” soos wat dit in die Nuwe Testament gebruik word, beklemtoon die besonderse band wat mede- gelowiges bymekaar bring binne die gemeente, soos die heiliges in Korinte, Efese of Kolosse. Sommige van hierdie gelowiges was alles behalwe heilig in hulle optrede, maar hulle was heilig omdat hulle deel was van die kerk as die liggaam van Christus.

Die Nuwe Testament verwys ook na ʼn “groot wolk van getuies” bestaande uit manne en vroue van geloof wat ons omring terwyl ons die pad van geloof stap. Trouens, elke gemeenskap binne die Christelike tradisie het sy “heiliges” onder andere Luther, Calvyn, Wesley en Spurgeon, saam met die talle sendelinge en martelare wat weens hulle dade deur Christene deur die eeue heen vereer word. Mag elke gelowige deur hierdie geloofshelde geïnspireer word om deel te wees van die bybelse oproep om heilig te leef in navolging van Christus, “die Begin en die Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).

Gebed: Here, die meeste van ons sien onsself nie as heiliges nie, tog het U ons aangeneem as kinders van God. Versterk ons in ons geloof sodat ons as heiliges getuies kan wees van u liefde, vergifnis en die herstel van God se beeld in almal. Amen