Hennie Symington

Net soos die liggaam ʼn eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 2 Korintiërs 12:12

Wat is kerk? Die kerk is die samekoms van God se volk wat gered is deur Christus en deur hom saamgeroep is om op ʼn besondere wyse deel te hê aan die koninkryk. Die heel eerste samekoms van God se volk het volgens oorlewering plaasgevind op die Berg Sinai toe die Here deur Moses gepraat het in Deuternomium 5:22. Dit was ʼn besondere byeenkoms omdat dit deur God self bymekaargeroep is. In die Nuwe Testament vind ons ʼn soorgelyke samekoms van God se volk. Die woord ekklesia wat in die Bybel gebruik word is meer as ʼn gemeente. Dit beteken dat God self die kerk byeenroep en ʼn nuwe opdrag aan die gemeente gee, naamlik om die Woord van God oral te verkondig.

Wie is deel van hierdie gemeente? In 1 Petrus 2:9a en vers 10 word gelowiges genoem, "ʼn uitverkore volk, ʼn priesterdom en ʼn nasie wat vir God afgesonder is"

Waarom heilig? As gelowiges is dit belangrik om te onthou dat die kerk deur God self ingestel is, en dus God se eiendom is. Ons word geroep om “heilig te wees, omdat Ek (God) heilig is” (1 Petrus 1:16). Daar word dus van die kerk (as die byeenkoms van gelowiges) verwag om ook so te wees.

Waarom Algemene Christelike Kerk? In Engels word die woord katoliek i.p.v algemeen gebruik. Dit beskryf naamlik die karakter van die Kerk met sy wye verskeidenheid mense, volke, aanbiddingstyle, gewoontes, tale en veel meer. Die beste voorbeeld van ʼn Algemene Christelike Kerk is waarskynlik internasionale gemeentes wat dwarsdeur die wêreld floreer (dikwels in nie-Christelike lande en in die geheim) en verskillende gebruike, gewoontes en aanbiddingstyle inkorporeer om so deel van die samekoms van God se volk te wees en in opdrag van Christus dat “… julle my getuies (sal) wees in Jersusalem … en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8).

Wat sê Paulus?  Aanvanklik het Paulus gepraat van die kerk as aparte gemeentes maar later na die Kerk verwys as “die kerk van God” (1 Korintiërs 1:2) om erkenning te gee aan die wye en meer inklusiewe aard van die ontluikende kerk wat stadig maar seker versprei het deur die midde-Ooste en Klein-Asië en verder.

Gebed: Here, ons kan nie anders as om met vreugde gevul te wees oor die hoogte, die wydte en die diepte van u Kerk op aarde nie. Ons bid dat ons een sal wees sal wees in u konstante liefde vir u kinders oral in die wêreld. Amen