Hennie Symington

Nog ʼn klein rukkie rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ʼn klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” Johannes 16:16

As daar een gebeurtenis is waaroor die Nuwe Testament baie duidelik is, is dit die wederkoms, want een ding is seker ‒ Jesus het nie weggegaan sonder voornemens om terug te keer nie. En dié keer in volle glorie. So oortuig was die vroeëChristene van Jesus se spoedige terugkeer, dat hulle in 'n oordrewe verwagting geleef het, soveel so dat hulle hulle daaglikse pligte versuim het. Wanneer ons die daaglikse sleur van die lewe met al sy laste ervaar of dreig om moedeloos te raak as ons na al die rampe en ongeluk rondom ons gadeslaan, sien ons met verlange uit na ʼn tyd van volkome vrede. Johannes se verlange in Openbaring vir Jesus se spoedige terugkeer, word die verlange van elkeen vir wie “hoop se laaste spore, in wanhoop (hul) ontgaan.”Tog verseker die Woord ons in Openbaring 22:20: “Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!”En in antwoord hierop lees ons: “Amen! Kom, Here Jesus!”

Die Bybel stel dit baie duidelik dat Hy by sy wederkoms die oordeel sal vel. Geregtigheid sal oral heers en opstand teen God sal gestraf word. Op hierdie tydstip sal God ook rekenskap vra van elkeen – lewend of dood. In die lig hiervan is dit goed dat die mens daaraan dink dat hy nie ʼn willose pop in die hand van God of pionne in die spel tussen Goed en Kwaad is nie. God het ons geskape met die vermoë om keuses te maak tussen goed en kwaad. As dit egter die enigste realiteit was, sou ons as menslike wesens sekerlik verdoem gewees het, want wie kan in alle onskuld voor die Regterstoel staan? Ons het almal gesondig. Tog is daar hoop want ons regter is ook ons Redder! Jesus het naamlik ons skuld op sy skouers geneem. Wanneer die Boek dus oopgeslaan word, en ons sondes voor die regbank uitgelees word, en ons rekenskap van ons lewens moet gee, gebeur die ondenkbare: ons word uitgenooi in die teenwoordigheid van God. En danksy Christus ons Redder, sal ons gered word.

Gebed: Vader, ons dank U dat U u Seun na ons toe gestuur het in ons tyd en tot in ewigheid. Mag ons soos die dissiples, waaksaam wag op die uur en die tyd dat Christus sal terugkeer sodat ons gereed sal wees om ons Skepper en Redder te ontmoet. Amen