Hennie Symington

Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ʼn wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Handelinge 1:9

Jesus vaar op in 'n wolk met die belofte aan sy volgers om terug te keer soos wat Hy hulle verlaat het. Dit is hier, soos by sy geboorte op aarde dat ons tyd en die ewigheid mekaar ontmoet. Met sy hemelvaart vertrek Christus uit ons tydvak om tot in ewigheid by God te wees. Tersefdertyd is daar ʼn ewige band tussen hemel en aarde gesmee toe Jesus in sy aardse liggaam die hemel binnegegaan het en die Heilige Gees die hemel naby aan ons gebring het.

As kinders van die 21ste eeu, vind ons hierdie woorde moeilik om te aanvaar. Om egter te ontken dat Christus liggaamlik opgevaar het, of om dit in metafore te probeer verduidelik, ontneem die Hemelvaart van betekenis. Jesus keer terug na God nie slegs as Jesus Christus nie, maar ook in sy menslike gedaante en natuur as Jesus van Nasaret, wat beteken dat die mens inderdaad ʼn verteenwoordiger in die hemel het.

Hoe weet ons dat Christus se hemelvaart werklik plaasgevind het? Soos met sy geboorte en kruisiging is dit gekoppel aan aardse tyd en plek. Ons weet wanneer dit plaasgevind het: “veertig dae na sy opstanding”,en waar dit gebeur het – op die “Olyfberg, vlak by die stad.”Hier het Jesus met se dissipels gepraat en saamgebid, voordat Hy sy laaste instruksies gegee het.

Gebed: Here, ons sien uit na die tyd wanneer die hemel en aarde een sal wees, en die trane van hierdie aarde afgevee sal word en U alles in almal sal wees. Amen