Hennie Symington

Toe sê die Engel vir die vroue: Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het.”  Matteus 28:5-6

Christus het op die derde dag na Goeie Vrydag en Stille Saterdag, die twee dag, opgestaan. Hierdie is nie ʼn vae hersenskim nie, maar ʼn geloofsfeit. Elkeen van die Evangelies bevestig dat die leë graf gevind is op die eerste dag van die week, d.w.s vroeg die Sondagmore. (Matteus 28:1, Markus 16:1-2; Lukas 24:1)

Waarom is dit so belangrik om hierdie feitelike inligting te beklemtoon? Om helder en duidelik en sonder twyfel te verkondig en te bevestig dat Jesus op ʼn spesifieke moment in die geskiedenis opgestaan het uit die graf. Soos wat sy geboorte en kruisiging gekoppel kan word aan ʼn spesifieke tyd en plek, net so kan sy opstanding bevestig word in die geskiedenis. Matteus 20:19bbevestig dat die Seun van die mens vir drie dae in die graf sou wees. En op die derde dag wat Sondag was, sal Hy uit die dood opgewek word.

Gebed: Christus, ons dank U dat U deur u dood die ewigheid vir my en die mensdom oopgesluit het. Gee dat ons hier die reddingsdaad nie slegs as ʼn historiese insident sal beskou nie, maar dit sal eerbiedig deur ʼn lewe te lei wat erkenning gee aan die offer wat U gebring het. Amen.