Hennie Symington

Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ʼn vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ʼn hout opgehang is.” Galasiërs 3:13

Kruisiging is ʼn straf wat slegs toegepas is op die ergste misdadigers en was dus ʼn skandelike manier om te sterf. Christus is nie slegs gekruisig voor die aangesig van ieder en ʼn elk nie, maar vervloek as die gekruisigde. Jesus hang tussen hemel en aarde aan ʼn kruis, verlate van mens en God self.

Was dit moontlik vir Jesus om sy lyding te verontagsaam omdat Hy goddelik was? Nee. Hy het inderdaad gesterf soos een van ons, as ʼn mens. Waarom? Omdat die Woord van God bepaal: “die loon van die sonde is die dood.” In die vierde Geloofsartikel word dit onomwonde gestel dat Jesus werklik gesterf het. In Johannes 19:32-35 lees ons dat die Seun van God sy laaste asem uitgeblaas het en gesterf het.

Omdat Hy gesterf het, moes hy begrawe word en blootgestel word aan die verrotting van die liggaam soos elke sterfling weens sy menslike aard moet ervaar. Christus was nie net mens tydens sy lewe op aarde nie, maar ook in sy sterwe. Hy betree die doderyk met alles wat daarmee gepaard gaan om aan te toon dat Hy in alle opsigte menslik was soos ons.

Hoe moet ons die gedeelte "Hy het ter helle neergedaal"wat veel later bygevoeg is (359 nC) interpreteer? In teenstelling met die voorafgaande stellings wat die pyn en lyding van Christus letterlik beskryf, klink hierdie frase amper abstrak. Daar is geen twyfel dat Christus totale verlatentheid en uiterse lyding ervaar het in ʼn plek wat van God verlate was nie. Hy het egter gewilliglik die afwesigheid van God verduur om ons die angs van volkome verwydering van God te spaar. Christus se hellevaart beteken goeie nuus vir die mensdom. Christus word die sondebok omdat “God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Johannes 3:16).

Gebed: Christus, U het gesterf sodat die mens nie van God verlate moes wees nie. Mag ek as begenadigde nooit vergeet dat Christus ter wille van my sondes gesterf het nie, en aldus ʼn lewe van toewyding en dankbaarheid te lei. Amen