Hennie Symington

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toegereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus deur God vrygespreek kan wees. 2 Korintiërs 5:19

Direk na die Artikel waar daar melding gemaak is van Christus se goddelike geboorte, bevind ons ons in ʼn nuwe arena van die diepste lyding en sterwe. Skaars het ons die wonderbaarlike geboorte van Christus as geloofswaarheid aanvaar, net om slegs drie en dertig jaar later gekonfronteer te word met sy lyding en sterwe.

Oor die insluiting van die naam Pontius Pilatus in die geloofsbelydenis is daar vir jare geredeneer. Een rede waarom hy genoem word is om Jesus se geboorte en sterwe binne ʼn geskiedkundige raamwerk te plaas wat geloofwaardigheid gee aan die lewe en sterwe van Jesus en om te verseker dat sy lewe nie slegs ʼn mite oor ʼn volksheld wat gesterf het in die stryd om die goeie voortleef nie nie, maar dat dit ʼn gebeurtenis is wat in die geskiedenis van die tyd geanker is.

 ʼn Verdere rede is om te bevestig dat hy Jesus onskuldig verklaar het teen sy beter wete. Sy onsteflike woorde wat steeds deur die eeue weerklink was: “Ek vind geen skuld aan hiedie mens nie.” (Lukas 23:4).Desnieteenstaande veroordeel hy hom tot die dood. Die vloek en skande van die kruis is dat menslike geregtigheid so uitverkoop is aan die wêreldse magte, dat die onskuldige die prys moes betaal vir “politieke korrektheid”. Trouens, ons lees in Lukas 23:12 dat Pilatus en die hoëpriester as gevolg van hulle ooreenkoms hulle vroeëre kwaaivriendskap begrawe het.

Christus se lyding het begin die dag toe Hy sy hemelse status prysgegee het om as mens aarde toe te kom. Dit was aan die kruis waar die ergste boosheid en die grootste liefde swaarde gekruis het sodat die mens ʼn kans op lewe kon hê. Die diepste lyding was egter om God se oordeel op sy skouers te neem.

Gebed: Ons Vader, in ʼn wêreld waar onheilige oordeenkomste die reël is, is dit nie ongewoon vir ons om saam te speel en ooreenkomste te maak wat U naam oneer aandoen nie. Vergewe ons as ons die waarheid kruisig ter wille van eie gewin. Amen