Hennie Symington

die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Lukas 1:35

“Hoe kan dit wees?” vra ons ons af in die woorde van Maria in Lukas 1:35. Hier, soos aan die begin van die skepping toe God gesê het “Kom Ons maak die mens…” tree God in sy skeppingsmag na vore om die mens te maak. Dit is dieselfde Gees wat teenwoordig is telkens wanneer nuwe lewe tot stand kom. Ook in ons eie lewens wanneer ons eie gees hernuwe word, gebeur dit deur die krag van die Heilige Gees.

Maria is een van twee persone wat in die Twaalf Artikels van Geloofgenoem word. Die ander persoon is Pontius Pilatus. Beteken dit dat sy ʼn spesiale status of posisie beklee in die Drie-eenheid of dat sy as tussenganger tussen God en mens optree? In die Protestantse tradisie word Maria bloot erken as die moeder van Christus van wie Hy sy menslike natuur ontvang het. Later word word daar gevind dat Maria deel was van die groterwordende groep gelowiges maar sonder enige status as bemiddelaar.

Neem in ag dat Jesus ʼn normale kindergeboorte soos tallose geboortes wat plaasgevind het in in daardie tyd dwarsoor die wereld ervaar het. Soos enige ander baba het hy gehuil wanneer Hy honger gehad het, en geslaap wanneer hy gesus is en het hy ʼn siel soos enige ander menslike baba gehad.

Die verskil tussen tussen hierdie geboorte en miljoene ander geboortes was dat die Seun van God gekies het om in menslike gedaante na die aarde toe te kom. Dit kan van geen ander wese op aarde gesê word nie. Deur dit te doen, bewys Hy dat dit goed is om ʼn mens te wees. Wat beteken dit vir ons? Alles! Die dag toe Hy gebore is, het die lydenspad begin. Op daardie dag het Jesus se reddingsdaad vir die mensdom begin. Inderdaad, Jesus is gebore om te sterwe sodat ons kan lewe.

Gebed: Here, U het gekies om soos een van ons te word, sodat ons soos U kon wees, menslik dog goddelik, sterflik dog onsterflik. Ons verstaan nie, tog glo ons. Amen