Hennie Symington

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here…  Lukas 2:11

Wie is hierdie man met die naam van Jesus, ʼn doodgewone Joodse naam, soortgelyk as die naam Josua? Tog is dit die naam wat die loop van die geskiedenis verander het. Die grondbetekenis van die naam Jesus is “bevryder” of “redder”. Is hy nie die timmerman se seun nie? lees ons êrens in die Woord. Hoe kan dit wees? Hoe kan dit wat so alledaags is die misterie van God se liefde wat vlees geword het, wees? Dit is juis die kern van die Evangelie. Wanneer ons hom erken as die enigste Seun van God, dan besef ons dat Hy nie die Vader, of die Heilige Gees is nie. Hy is volledig deel van die die Drie-eenheid. Die drie Persone in die Drie-eenheid is enig en nie uitruilbaar nie. Tog is die Vader, die Seun en die Heilige Gees een.

Wat beteken die naam “Christus”?

Die naam Christus is die Griekse weegawe van die Hebreeuse woord vir Messias, wat die gesalfde beteken. Soos talle voor Christus, profete, priesters en konings word Christus beskou as die “gesalfde”. Vir Israel was dit egter ʼn heenwysing na die gesalfde wat nog moes kom naamlik Christus as die Messias wat gesalf word met die Heilige Gees.

"God het hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking." Johannes 3:34

Gebed: Jesus Christus, die wonder is dat ons een kan wees met U omdat U soos een van ons geword het. U het geween, gebloei en gesterf. Tog het U die dood oorwin sodat ons kon leef. Amen