Hennie Symington

U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie. Psalm 104:2-5

Iemand het op ʼn keer gesê dat die skepping gesien kan word as God se verlange. In menslike terme beteken dit dat die skeppingsdaad voortgevloei het uit God se liefde, want hoe anders kan liefde tot uiting kom as daar geen objek van daardie liefde is nie? In die afwesigheid van so ʼn objek, het God die hemel en die aarde en alles wat daarop bestaan geskep, sodat Hy sy liefde daarop kon uitstort en sy heerlikheid openbaar gemaak word.

Hoe het God die aarde gemaak?

Ons kan daaroor spekuleer maar sal waarskynlik nooit die raaisel om iets uit niets (ex nihilo) daar te stel kan peil nie. In Psalm 33:9lees ons ʼn Bybelse uiteensetting van die skeppingsproses. “… want Hy het gepraat en dit was so…”.Die Bybel is nie ʼn wetenskaphandboek nie; dit beskryf bloot in ʼn taal wat ons kan verstaan dat die skepping tot stand gekom het, en dat ons dit in geloof moet aanvaar. Dit is belangrik om te begryp dat die skepping self nie heilig of goddelik is nie; dit is nie deel van God se wese nie maar dit is die werk van sy hande en moet as sulks met eerbiedig word.

Dit is ook so dat die skepping nie slegs die werk van God die Vader alleen was nie nie. God tree op as die Drie-eenheid. Dis asof die Vader die leiding geneem het in die skeppingswerk, terwyl die Seun na vore tree in die reddingswerk en die Gees aktief is in die heiligmaking van die skepping. Inderdaad, God het die hemel en aarde geskep, en toe die mens. Toe sien Hy dat dit goed was.

Gebed: God, nie net het U ons as die objek van u liefde geskape nie, maar skenk aan ons ʼn siel wat kan U kan ken en eien as die Skepper. Hoe salig is dit nie, Here! Amen.