Hennie Symington

Deur die woord van die Here, is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame…  Psalm 33:6

Waar is die hemel? Is dit ʼn plek of ʼn geestelike ruimte?

Soms verwys dit na die lug of die hemel daar bo, en soms as die plek waar God woon. In menslike terme kan ons die hemel beskryf as God se werkswinkel. Dit is die plek van waar Jesus gestuur is, en waarheen hy teruggekeer het. Dit is ook die plek van waar God se reddingswerk geïnisieer word. Ongeag van hoe die hemel in die heilige Skrif uitgebeeld word, begryp ons dat dit ʼn baie spesifieke plek is waar God alles in almal is en waar sy wil volmaak geskied.

Het die hemel betrekking op ons as gelowiges? Het ons ʼn aandeel in die hemel gedurende ons tyd op aarde? Inderdaad! Die konkinkryk van die hemel is onder ons, soos Jesus so dikwels gedurende sy aardse verblyf gesê het. Jesus waarsku keer op keer dat die koninkryk van die hemele naby is en dat ons ons sondes moet bely. Naby beteken onder ons. Dit beteken ook by ons. Daarom word ons gemaan om te leef en te handel “soos in die hemel”, d.w.s asof ons in die hemel woon.

Hoe kry ons as aardbewonders dit reg om soos hemelgangers te leef?

Deur ons dade van liefde, goedheid, genade, vergifnis en heiligheid skep ons ʼn stukkie hemel op aarde. Dit is wat God van ons verlang. Deur so te leef, kry ons, en bring ons inderdaad ʼn voorsmaak van die hemel by ons tuis.

Gebed: Here, hoe moeilik is dit nie vir ons om die hemel op aarde raak te sien nie! Ons soek daarbo maar vergeet dat U teenwoordig is in die hemel sowel as op die aarde. Open ons oë vir vroeë tekens van die hemel onder ons. Amen