Hennie Symington

God het die wêreld so liefgehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het… Johannes 3:16

Wat beteken dit as ons sê: “Ek glo in God?”, “Wie is God?” en “Hoe weet ons wie Hy is?” Hierdie is maar net sommige van die vrae waarmee gelowiges worstel. As ons God egter op ons eie terme omskrywe en definieer, loop ons die gevaar om God na ons eie beeld te skep. Hoe meer ons God as objek “bestudeer” hoe meer besef ons dat Hy geheel en al anders is as ons en dat sy weë anders is as ons weë en dat daar geen manier is waarop ons alles oor Hom kan begryp nie.

Tog is die wonder dat God hom aan ons bekend stel in menslike terme. Hy maak Hom bekend aan ons, nie net as ons Vader nie, maar as ʼn vader wat liefhet en vir ons omgee en met ons in gesprek tree. En om hierdie liefde van Hom sigbaar te maak, stuur Hy sy Seun sodat die mens aan hierdie liefde kan deel hê. In Johannes 3:1 lees ons: "Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God …" . Hierdie inklusiewe liefde van God maak Hom totaal anders as enige ander sogenaamde god of heerser in die geskiedenis.

Hierdie verhouding verseker my dat God, as my Vader, my liggaam en siel sal versorg met die versekering dat alles wat met my gebeur, binne sy goddelike wil geskied. Trouens, hierdie verhouding word gekenmerk deur ʼn intense liefde vir ons as sy kinders. In Johannes 17:26 sê Jesus van sy Vader: "Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees, en Ek ook in hulle.”  In vers 24 lees ons dat God Jesus al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. Net so het God ons lief, van voor ons geboorte af tot in ewigheid.

Omdat ons dit kan glo, kan ons in die woorde van die Heidelbergse Kategismus getuig: “My tye is in God se hand.” Maar meer nog ‒- dit is ʼn verhouding soos die van ʼn vader teenoor sy kind. Dit bring die gelowige tot die wonderlike gewaarwording dat niks buite die volmaakte wil van God geskied nie.

Gebed: Onse Here en Vader van almal, wat ʼn salige wete dat U my lewe van begin tot einde in u hand hou. Amen