Hennie Symington

God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp nie, … sy jare kan nie bereken word nie. …  Hy doen groot dade en ons begryp dit nie. Job 36:26; 37:5

Wat is die waarde van tradisie?

By die moderne mens is daar die neiging om tydgeheiligde tradisies en praktyke as outyds en dus as waardeloos af te maak. Die teendeel is egter dat van hierdie tradisies juis die geldigheid, eenvormigheid en standvastigheid van geloof in die lewende en aktiewe Woord van God bevorder.

Deur die eeue heen het talle geskrifte en belydenisse rondom die Christelike geloof die rondte gedoen, maar nie een is so wyd aanvaar as die Twaalf Artikels van die Geloof nie.

Vir baie jare is daar aanvaar dat die Twaalf Artikels sy oorsprong by die apostels gehad het, vandaar die naam Apostoliese Geloofsbelydenis. Ons weet trouens baie min oor die ontstaan van die hierdie belydenisgeskrif. Waarvan ons wel seker kan wees is, dat daar meer as een weergawe van die belydenis in omloop was tydens die eerste twee eeue na Christus. Teen die tweede eeu na Christus, vind ons egter dat die onderskeie weergawes saamgesmelt het in een weergawe wat deur feitlik alle Christelike kerke dwarsoor die wêreld, met die uitsondering van die Grieks Ortodokse Kerk, aanvaar word. Die waarde van die Apostoliese Belydenis vir Christene is dat dit gelowiges deur die eeue tot vandag toe voorsien van ʼn duidelike en grondige uiteensetting van die kern van wat ons glo. (Gaan lees gerus op oor die geskiedenis van hierdie eeue-oue dokument wat steeds geldig is in die 2e millennium na Christus.)

Is daar steeds ʼn behoefte aan ʼn belydenisskrif?

Die waarde van ʼn algemeen aanvaarde belydenis van geloof is dat dit ons herinner aan die groter geloofswaarhede wat ons geloof rugsteun en verhoed dat ons die waarheid oor wat ons glo langs die pad kwytraak. Dit versterk ons met kennis sodat ons dit wat ons glo kan verkondig en verdedig. Maar meer nog, dit stel jou as gelowige in staat om jou geloof te kan uitdra en so getuienis te kan lewer van wat jy glo.

Gebed: Here God, dankie dat ons U kan leer ken deur u Woord en deur die grootse dade wat U deur U hand gedoen het. Ons bid dat U ons gedagtes sal lei op hierdie studie van wat geloof vir ons as mense beteken. Amen