Neville Turley

Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.  Galasiërs 6:10 (1933/53-vertaling)

Ons almal weet dat die lewe kort is. Wanneer jy in die skool is en jou hele lewe lê voor, lyk die toekoms baie ver. Hoe ouer 'n mens egter word, hoe vinniger gaan die jare verby. Die geleenthede wat ons nie aangegryp het nie, is dan vir ewig verby.

Jare gelede het 'n mens in baie huise teen die muur dikwels 'n prent sien hang van 'n spreuk langs 'n tekening van 'n ridder met sy volle harnas aan. Die spreuk word aan Stephen Grellet (1773-1855) toegeskryf en dit lui: “I shall pass through this world but once. Any good therefore that I can do or any kindness that I can show to any human being, let me do it now. Let me not defer or neglect it for I shall not pass this way again."

Die apostel Jakobus waarsku ons ook dat die lewe kort is en dat ons nie oor môre moet roem nie. "Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” (Jakobus 4:14-15

Die wese van Christenskap is 'n wekroep tot aksie. Jesus wil dat ons ons sondes moet bely en deel van sy huisgenote moet word. Maar nêrens in die Bybel lees ons dat as ons die Here se uitnodiging aanneem ons pad na die hemel maklik gaan wees nie.

Inteendeel! Dit is maar 'n stamperige pad en terwyl ons op reis is in die onbekende, is daar baie uitdagings wat ons moet oorkom. Elke uitdaging is egter 'n geleentheid om God te verheerlik.

Die wonderlike nuus vir elke Christen is egter dat ons nie hoef bang te wees vir wat die toekoms bring nie want ons bestemming is veilig in God se hande. Alles sal regkom.

Gebed: Hemelse Vader, ons loof en prys U. Gee dat ons deur u Heilige Gees u genade en liefde deur Jesus Christus met ander sal deel. Amen