Neville Turley

“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”  Johannes 7:37-38

Water is  noodsaaklik om lewe te kan onderhou. Niemand is meer bewus dat waterbronne effektief bestuur moet word as juis die inwoners van die Wes-Kaap waar daar tans 'n ernstige droogte is nie.

Die reën bly weg en Dag Zero, wanneer die watervlak van die damme so laag gaan daal dat die krane gaan leegloop, kom vinnig nader. Ons moet ernstig bid dat die Here ons land en sy mense sal beskerm van hierdie naderende katastrofe.

Jesus het dikwels lewensnoodsaaklikhede, soos water, gebruik om ons aan te moedig om hemelwaarts te kyk. Johannes het vir ons aangeteken dat Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put drinkwater gevra het (Johannes 4:7-30).

Die versoek het 'n gesprek tussen die twee begin. Sy het dit bevraagteken dat 'n Jood vir 'n Samaritaan drinkwater gevra het. "Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” (Johannes 4:10)

Sy antwoord het haar belangstelling geprikkel en haar nog nuuskieriger gemaak. Sy wou meer by Jesus oor die lewende water uitvind. "Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”(Johannes 4:13-14)

Die gebrek aan water om ons liggame te onderhou, bedreig ons totale oorlewing. Ons moet elke dag vloeistof inneem om te kan oorleef.

Die geskenk van die lewende water wat God ons aanbied, sal ons tot in ewigheid onderhou. Dit is die verlossing wat ons in Jesus Christus ontvang. Daar is egter 'n voorwaarde – ons moet dit so graag wil hê dat ons daarvoor sal vra.

Die Samaritaanse vrou het vir die lewende water gevra. Het jy dit al gedoen?

Gebed: Almagtige God leer ons meer oor die wonder van U verlossende teenwoordigheid. Maak ons so dors dat ons sal verlang om met strome van lewende water gevul te word. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen