Neville Turley

Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei.  Psalm 48:15

Edmund Hillary, 'n Nieu-Seelandse bergklimmer en Tenzing Norgay, sy gids, het geskiedenis gemaak toe hulle op 29 Mei 1953 die berg Everest oorwin het. Die wêreld het hulle toegejuig en hulle is oorlaai met toekennings en eerbewyse.

Joernaliste het herhaaldelik hierdie een vraag aan hulle gestel: "Wie het eerste die kruin bereik?" Hulle is nooit geantwoord nie. Die twee mans het 'n belofte aan mekaar gemaak dat hulle nie sal onthul wie eerste die piek bereik het nie. Vir hulle was die klim van hierdie berg 'n spanpoging en nie een van hulle sou alleen oorleef het nie.

Hulle het daardie belofte gestand gedoen. Norgay is in 1986 oorlede en Hillary in 2008. Niemand sal ooit weet wie het regtig die berg Everest eerste oorwin nie. In die geskiedenis is dit opgeteken dat hulle dit saam gedoen het.

Die Here het ook 'n lewenslange belofte aan ons gemaak. Hy sal ons vir ewig lei.

Maar hoe ontvang ons God se leiding?

Eerstens moet daar by ons 'n begeerte wees om die Here te ken en om sy wil te doen.

Ons moet die Bybel lees, nie net bolangs nie, maar deeglik en ons moet dit wat ons lees oordink en bestudeer. Ons sal nie alles wat ons lees verstaan nie, maar die Here verwag nie dat ons dit op ons eie gaan regkry nie. Sy Heilige Gees help ons om die bybelse boodskap te verstaan en dit in ons lewens toe te pas.

Die Here lei ons ook deur gebed. Jesus het gereeld gebid. Ons moet sy voorbeeld volg.

Ons moet ook versigtig wees om nie net te bid vir dit wat ons wil hê nie. Dit is belangriker om te luister na dit wat God van ons verlang. Gebed is nie net vra en nogmaals vra nie. Dit is luister, luister en weer 'n keer luister na die stem van God wat in jou binneste met jou praat.

Indien ons vashou aan die belofte wat die Here in vandag se teksvers met ons maak, sal ons nooit alleen wees nie. Hy sal ons konstante gids wees. Ons dien 'n getroue God.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die versekering dat U ons nooit sal verlaat nie. Gee dat u Heilige Gees ons vandag, en elke ander dag, sal lei. Dankie vir al die seëninge wat ons deur u Seun, Jesus Christus, ontvang. Amen