Neville Turley

““Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”  Matteus 6:24

Daar is ongeveer 800 teksverse in die Bybel wat oor geld handel, 500 oor gebed en baie minder as 500 oor geloof. Dit beteken egter nie dat geld belangriker as gebed en geloof is nie. In ons samelewing, soos die geval was in die tyd van Jesus, speel geld 'n belangrike rol in ons daaglikse bestaan.

Die ou gesegde, "geld praat" is deur die eeue baie waar. Mense oordeel ander volgens wat hulle besit en wat hulle geld kan koop. Geld, of die gebrek daaraan, bepaal ons omstandighede en dikwels die keuses wat ons maak. So, dit is dus nie 'n verrassing dat die Bybel so baie oor geld te sê het nie.

Daar is niks mee verkeerd om geld te hê nie. Dit is 'n seën om in staat te wees om geld tot eer van God te kan gebruik. Dit stel 'n mens in staat om meer te doen om daardie saak wat die Here op jou hart gelê het, te ondersteun.

Dit is nie geld as sodanig nie, maar wel die liefde vir geld wat die wortel van alle kwaad is. Die najaag van geld vir ons eie verryking en bevrediging kan ons duur te staan kom.

Die Bybel waarsku ons oor die gevolge van geldgierigheid: "Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal." (1 Timoteus 6:9-10)

Dit is 'n donker prentjie. Daar sal altyd mense wees wat in die versoeking is om die geldgod na te jaag. As hulle maar net ag sal slaan op Jesus se waarskuwing in ons teksvers van vandag. Dit bring vrede vir die siel.

Gebed: Hemelse Vader, skenk ons die genade om gehoorsaam te wees aan u wil en nie ons eie selfsugtige begeertes na te jaag nie. Gee dat die Heilige Gees ons sal help om aan U lof en eer te bring. Amen