Neville Turley

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.  2 Korintiërs 13:13

Naas die Ons Vader-gebed, is ons vers vir vandag heel waarskynlik die gebed wat in alle kerkgenootskappe die meeste herhaal word. Baie gemeentes sê dit as 'n seënbede aan die einde van elke kerkdiens. Die probleem met gebede wat dikwels herhaal word, is dat 'n mens dit net herhaal sonder om oor die woorde na te dink.

Die kerk in Korinte het groot probleme gehad. Diep verdelings, wedywering en twis het die gemeente uitmekaar gedryf. Boonop het 'n groep Joodse Christene wat uit Jerusalem gekom het, daarop aanspraak gemaak dat hulle die apostels verteenwoordig. Hulle het Paulus gekritiseer en so die saak net vererger.

Paulus was op die stadium in Masedonië, en hy het Titus met 'n brief gestuur om die situasie te gaan hanteer. Titus het die kerk besoek en hy kon daarna rapporteer dat die gemeente in Korinte hulle met Paulus versoen het.

Dit was teen hierdie agtergrond wat Paulus 2 Korintiërs geskryf het. Hy was bitter seergemaak oor die persoonlike aanvalle teen hom, sy gesag en sy apostoliese opdrag, en dit van 'n gemeente wat hy gestig het. Dit moes 'n pynlike brief gewees het om te skryf, en tog sluit hy dit af met ons vers vir vandag.

Paulus vestig ons aandag op drie eienskappe – genade, liefde en gemeenskap.

In Martin Luther se verduideliking van regverdigmaking deur geloof sê hy dat in Christus God se genade aan ons gegee word as 'n vry en onvoorwaardelike liefdesgeskenk.

Liefde lei ons terug na die Bron van liefde – God. God is nie net 'n liefdevolle God nie, Hy is liefde. Een groot verskil tussen die Ou en Nuwe Testament is dat in die Ou Testament lees ons herhaaldelik dat God die regverdige liefhet, en dit is absoluut waar. Die Nuwe Testament gee egter aan ons die blye versekering dat alhoewel ons sondaars is, Christus vir ons gesterf het – so groot is die liefde van God.

Gemeenskap kom van die Griekse woord, koinona. Dit is in hierdie gemeenskap met die Heilige Gees dat ons die geskenk en genade ontvang wat die lewens van gelowiges verander en ons toelaat om geestelik te groei en in die voetspore van Jesus te volg.

Paulus se gebed is dat hierdie genade, hierdie liefde en hierdie gemeenskap nou en vir ewig met ons sal wees.

Gebed: Drie-enige God, ewige bron van volmaakte liefde, help ons om tot in ewigheid een met U te wees. Amen