Neville Turley

Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Romeine 1:16-17

Regdeur die lewe kom 'n mens in aanraking met mense wat nie noodwendig godsdienstig is nie, maar wie ons instinktief vertrou. Mense met integriteit wat ons aanvaar ons belange op die hart dra en ons vertrou hulle en volg hulle raad. Soms tot ons voordeel, en soms wanneer ons agterkom hulle het voete van klei, tot ons nadeel.

Die Christelike geloof is God se geskenk aan ons. Dit is 'n geloof wat nooit wankel nie. Nie deur verdienste nie, maar deur geloof is ons gered en kan ons op God vertrou. "Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het." (Efesiërs 2:10)

Jesus prys ook mense met geloof wanneer hulle in tye van angs en kommer na Hom draai vir hulp.

“Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie," sê Jesus oor die Romeinse offisier wat Hom gevra het om sy slaaf gesond te maak. Jesus het aangebied om na die offisier se huis toe te gaan om die slaaf te genees.

Die offisier was weens sy militêre opleiding seker in staat om mense goed op te som. "Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie," antwoord hy. "Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word." Jesus was verwonderd oor die antwoord van hierdie offisier en Hy reageer onmiddellik soos volg: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. (Matteus 8:5-13)

Regdeur sy bediening het Jesus beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat jou geloof in God moet toeneem. Dit is ook vir ons 'n les.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die geskenk van 'n geloof wat nie wankel nie. Gee dat die Heilige Gees ons geloof sal laat toeneem sodat ons U kan loof en eer. In Jesus se Naam bid ons dit.  Amen