Neville Turley

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”  Lukas 10:27

Jesus se liefde vir sy Vader en vir diegene ter wille van wie se redding Hy na die wêreld gekom het, is aan die kruis verwesenlik. Daar, in gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader het Hy sy lewe afgelê om ons van ons sondige self te red.

Die Jode het 'n Messias verwag wat as 'n oorwinnaar en 'n held sou kom om al hulle vyande te verslaan en dan sy koninkryk in Jerusalem sou vestig. Hulle kon nie hulle konsep van 'n Messias met die bediening van Jesus versoen nie en het Hom heeltemal verwerp.

'n Fariseër wat ook 'n kenner van die wet was, het Jesus getoets deur te vra: "Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het hom geantwoord met 'n vraag: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe?" Die Fariseër antwoord Hom met ons vers vir vandag.

Toe vra hy Jesus: “En wie is my naaste?” Daardie vraag pla mense vandag nog. In antwoord het Jesus hom die bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. (Lukas 10:30-35)

Om die gelykenis te kan verstaan, moet ons dit in sy volle konteks sien. Samaritane was van Joodse afkoms, maar hulle is deur elke ortodokse Jood gehaat en verag. Hulle was afstammelinge van die Jode wat in Samaria agtergebly het toe dit 400 jaar vroeër verower is. Hulle voorgeslagte het met lede van die onderdrukker getrou en die Jode het besluit dat om dié rede hulle nie meer suiwer Jode was nie.

Om 'n Jood 'n Samaritaan te noem was 'n groot belediging. In Jesus se gelykenis was die Samaritaan, anders as in Joodse volksverhale, nie die skurk nie, maar die held!

Deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan het Jesus die vraag "Wie is my naaste?" geantwoord. Dit is enigiemand wat 'n behoefte het aan hulp en vir jou om die ekstra myl met hom saam te loop.

Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (Johannes15:17)

Gebed: Hemelse Vader ek bid vir diegene vir wie die lewe moeilik is en wat probleme en hartseer ervaar. Help my om met medelye na hulle uit te reik en om te help waar ek kan. Ek bid dit in Jesus se Naam.  Amen