Neville Turley

“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”  Markus 1:15

Regdeur sy bediening het Jesus sy aandag gevestig op die kommunikasie van God se goeie nuus. Dit was sy konstante tema en een wat ons moet uitdra.

Jesus het sy aardse bediening in Galilea begin. Hy was geestelik daarvoor voorberei.

Soos baie mense van Judea en van die stad, Jerusalem, het Jesus ook na Johannes die Doper toe gegaan om gedoop te word. Toe Hy uit die water gekom het, het Jesus die hemel sien oopgaan en die Heilige Gees het op Hom neergedaal. Toe het Hy sy Vader hoor sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Markus 1:11)

Onmiddellik daarna het die Heilige Gees Hom na die woestyn gelei. Daar het Hy vir 40 dae gebid en gevas. Daar het die duiwel probeer om Hom te verlei, maar Jesus het die Woord van God gebruik om die duiwel se versoekings teen te staan.

Toe Hy gehoor het dat Johannes gevange geneem is, het Jesus geweet dat dit tyd was vir Hom om sy missie te volbring. Hy het na Galilea gegaan en begin om die goeie nuus van God te verkondig.

Jesus se woorde in ons vers vir vandag is nog net so relevant vir ons as toe Hy dit vir die eerste keer gepreek het. Jesus se voorganger, Johannes, het die weg vir Hom voorberei deur ook mense aan te moedig deur te sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 3:2)

Die woord bekeer kom 46 keer in die Nuwe Testament (1983-vertaling) voor. Bekeer beteken nie net om te sê jy is jammer oor dit wat jy verkeerd gedoen het nie. Dit gaan dieper as dit, dit beteken dat jy wegdraai van jou sonde en dit nooit weer wil doen nie.

Die wonderlike uitnodiging van Christus openbaar dat mans en vroue gemaak is om God te volg. Hulle moet egter hulle prioriteite in orde kry.

Ware bekering beteken die verandering van 'n wêreldse houding en uitkyk om op dit wat heilig is te fokus. Dit beteken dat jy deur Jesus Christus na God moet draai en Hom moet toelaat om beheer van jou lewe te neem.

Indien jy dit nog nie doen nie, is daar geen beter tyd om daarmee te begin as juis nou nie.

Gebed: Vader, vergewe ons vir al die dinge wat ons doen wat U seermaak. Versterk ons geloof in Jesus deur u Heilige Gees. Amen