Neville Turley

In alles moet jy self vir hulle 'n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag, … Titus 2:7

Hierdie brief van Paulus is geskryf aan Titus wie Paulus as sy eie kind in die geloof beskou het. Hulle het saam die bediening op Kreta begin. Toe Paulus vertrek om sy sendingreis voort te sit, het Titus agtergebly om die gemeente te bedien. Titus was 'n ideale leraar en een aan wie Paulus geglo het hy hierdie moeilike taak onder die Kretensers kon toevertrou.

In ons vers vir vandag sê Paulus aan Titus om 'n rolmodel te wees. Hy sê ook vir Titus dat almal in die gemeente ook rolmodelle moet wees.

Niemand is, volgens Paulus, te jonk, te oud of te onbelangrik om 'n rolmodel te wees nie. Hy daag selfs die slawe van die dag uit om deur hulle gedrag te bewys dat hulle getrou is aan God in alles wat hulle doen.

Wat beteken dit nou eintlik om 'n rolmodel te wees? Dit beteken dat jy so moet leef dat ander mense sal begeer om ook so te leef.

Daar kan geen beter manier wees om die Christelike geloof te bevorder nie. Die woorde van 'n Christelike getuienis is belangrik, maar dit is belangriker om 'n lewe te lei wat op die waardes van Christus geskoei is.

Om vir ander te sê om te doen wat jy sê en nie wat jy doen nie, is nie 'n opsie vir 'n Christen nie. Ons lewens moet van so 'n aard wees, dat ander sal begeer om ook so te leef en dat hulle deur dit te doen, die Verlosser kan ontmoet.

Gebed: Hemelse Vader, mag die lig van u Evangelie in die wêreld skyn. Gee dat ons deur beide woord en daad van u hemelse genade getuig. In die Naam van Jesus, ons Verlosser, bid ons dit. Amen