Neville Turley

“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.  Daniël 7:13

Daniël was 'n beroemde profeet wat visioene gehad het en oor die vermoë beskik het om drome uit te lê. Hy is in die 6de eeu v.C. gebore en is in die koninklike hof as 'n sekretaris opgelei.

Hy het 'n droom wat koning Nebukadnesar diep ontstel het, uitgelê en dit het hom in die kalklig geplaas. Die koning was so beїndruk dat hy Daniël as 'n belangrike amptenaar aangestel het en vir hom baie en groot geskenke gegee het. (Daniël 2:48)

Daniël het in sy leeftyd 'n hele aantal konings gedien, maar sy lojalitieit het eerstens by die almagtige God gelê.

Die profetiese visioen waarna vandag se teksvers verwys, verwys na die wederkoms van die Seun van die Mens.

Jesus het ook na daardie groot en wonderlike dag verwys. In hierdie Kerstyd wanneer ons sy eerste koms na hierdie wêreld herdenk, is dit gepas dat ons ook aandag gee aan dit wat Hy oor sy wederkoms gesê het. Dit gaan 'n dag wees wat die wêreld nie sal kan ignoreer nie. Dit sal pikdonker wees, geen son of maan nie en die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

“Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” (Matteus 24:30-31)

Halleluja, Jesus sal weer kom, net soos die engele reeds 2 000 jaar gelede voorspel het. (Handelinge 1:11)  Watter wonderlike toekoms wag daar nie op diegene wat deur God uitverkies is nie.

Gebed: Almagtige God, rus ons toe deur u Heilige Gees sodat wanneer U weer kom ons gereed sal wees. Ons bid dit in Jesus se Naam.  Amen

NS: Hierdie is ons laaste vers-'n-dag vir 2017.  Geseënde Kersfees.