Neville Turley

Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.  Lukas 24:44-45

Regdeur die geskiedenis van die volk Israel, het God die Jode beloof dat Hy die Messias sou stuur om oor hulle te regeer.  Hy sou hulle Koning en Hoëpriester wees, en hulle met Hom versoen en die kragte van die bose vernietig. Die Messias sou die gelowiges heilig maak en sy seëninge sou oor al die nasies uitgestort word.

Onder leiding van die Here het die profete spesifieke besonderhede oor die identiteit van die Messias en sy bestemming, aan die  volk geopenbaar. Engele het mense bewus gemaak dat die geboorte van die Messias op hande was en die wyse manne het dit in die sterre gesien.

Die Bybel gee ons 'n lys van mense wat vooraf oor die wonderlike gebeure ingelig is. Behalwe Maria en Josef, Sagaria en Elisabet (die ouers van Johannes die Doper), was daar ook Simeon en Anna, die profetes, beide wat reeds vir 'n lang tyd by die tempel op die koms van die Christuskind gewag het.

Simeon het die baba Jesus in sy arms geneem en God geloof dat die belofte van die Heilige Gees dat dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie, nou waar geword het. (Lukas 2:26)

Toe Anna die baba Jesus gesien het, het sy God gedank en met almal oor die Kindjie gepraat. (Lukas 2:38)

Die geboorte van die kindjie Jesus is toe nie ligtelik opgeneem nie (selfs nie deur koning Herodes nie) en moet ook nie nou ligtelik opgeneem word nie. En tog gaan baie mense Kersfees vier sonder om eers aan die Christuskind, God se geskenk aan ons almal. te dink.

Na sy opstanding het ons Here sy dissipels vermaan. Hy het vir hulle gesê: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê." (Lukas 24:25-27)

Hoe geseënd is ons nie om die Bybel te hê nie. Dieselfde opgestane Jesus wat sy dissipels vermaan en geleer het, leer ons vandag nog hierdie selfde waarhede. Mag die Heilige Gees ons help om alles wat Hy ons leer ons eie te maak en in ons lewens toe te pas.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat die Bybel reeds aan ons 'n voorsmakie gee van die heerlikheid wat nog gaan kom deur Jesus Christus, wat sal kom vanwaar Hy regeer, een God met U en die Heilige Gees, nou en vir altyd.  Amen