Neville Turley

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie. Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde. Sagaria 9:9-10

Hierdie profesie van Sagaria vertel van Christus se triomfantlike intog in Jerusalem. Straatoptogte is eeue oud! Mense vaar die strate in om hulle solidariteit met, of teenkanting oor 'n spesifieke saak of individu te bewys.

Ongelukkig is skares mense wispelturig en word hulle dikwels beïnvloed.

Die strate van Jerusalem was volgepak met mense wat vir die Paasfees daarheen gekom het. Daar het hulle toe gehoor dat Jesus, die langverwagte Messias, wat so pas 'n man uit die dood opgewek het, onderweg was na die stad. "Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” (Johannes 12:13)

Hulle moes dronkgeslaan gewees het dat hulle Messias nie die stad op 'n oorlogsperd binnegry het om die vyand te kom vernietig en sy koninkryk te vestig nie. Hy het die stad op 'n donkie, 'n simbool van vrede, binnegery.

Maar boosaardige magte was aan die werk. Jesus, wat deur Judas vir 30 stukke silwer verraai is, is ter dood veroordeel. Pilatus wil hom vrylaat, maar die houding van die skare het nou verander. Hulle prys en loof nie meer die Koning van Israel nie, inteendeel, hulle roep aanhoudend uit: “Kruisig, kruisig hom!” (Lukas 23:21)

Pilatus het tevergeefs geprobeer om met die mense te redeneer en uiteindelik gee hy toe aan hulle eise.

Judas het bitter spyt gehad oor dit wat hy gedoen het. Hy probeer om die geld terug te gee maar die priesterhoofde weier om dit te aanvaar. Judas het die geld op die tempelvloer neergegooi en homself gaan ophang. Die priesterhoofde het besluit om die "bloedgeld" te gebruik om grond van 'n pottebakker te koop om as 'n begraafplaas vir buitelanders te gebruik.

Hulle aksies het woorde wat Sagaria (Sagaria 11:12-13) en Jeremia (Jeremia 32:6-9) eeue vroeër geprofeteer het, vervul. Weer eens sien ons hoe Ou-Testamentiese profesieë in die Nuwe Testament bewaarheid word. Daar is 'n Engelse gesegde oor die Bybel wat lui – the New is in the Old concealed, the Old is in the New revealed – wat 'n mens wanneer jy 'n stuk soos die van vandag lees, baie duidelik verstaan.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u woord. Gee dat u Heilige Gees in die bladsye van die Bybel alles aan ons sal openbaar wat ons nodig het om tot verheerliking van u Naam te leef. Amen