Neville Turley

Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.  Maleagi 3:1

Die boek Maleagi, die laaste boek in die Ou Testament, is tussen 450-425 v.C. geskryf. Die tempel was weer herbou, maar die moraal van die Jode was baie laag. Dit was moeilike tye in Juda.

Die volk het met baie hoë verwagtinge uit ballingskap teruggekeer. Nou, byna 100 jaar later is hulle steeds onderdanig, onseker en bang vir invalle deur ander volke. Verder het hulle hongersnood in die gesig gestaar as gevolg van 'n erge droogte wat die ekonomie nadelig beïnvloed het. Maar die ergste was egter dat die Messias nog nie sy verskyning gemaak het nie.

Hulle het God se liefde en geregtigheid bevraagteken. Hoekom moet hulle God dien terwyl die misdadigers en oortreders vooruitgaan en floreer?

Maleagi was 'n ware profeet. Hy het sonder om doekies om te draai vir die Jode gesê dat hulle droewige lot die gevolg is van hulle sonde.

Hy het die korrupte gebruike van die priesters wat God se verbond verbreek het, sterk veroordeel. Hulle het nie hulle tempelpligte ernstig opgeneem en die nodige respek aan God bewys nie. Hulle het selfs besmette offerhandes aanvaar om op die altaar te offer.

Maleagi het egter ook die volk veroordeel. Hulle het nie hulle beste vir die Here gegee nie en dit openlik betwyfel of dit enigsins die moeite werd is om Hom te dien.

Maleagi waarsku hulle dat die dag van die Here naby is. Op dié dag sal die verskil tussen die regverdiges en die sondiges, tussen diegene wat die Here dien en die wat Hom nie dien nie, duidelik gesien kan word.

Wie was die boodskapper wat as voorloper van die Messias sou kom en waarna ons teks vandag verwys? Jesus self het gesê dat die boodskapper Johannes die Doper was. Johannes is die Elia wat sou kom en waaroor al die profete en die wet geprofeteer het. (Matteus 11:10-14)

Wat Christus oor Johannes gesê get, het bevestig dat Jesus die Messias was en dat die dag van die Here aangebreek het.

Gebed: Almagtige God, dit is slegs deur u genade alleen dat ons geroep word om U te dien. Skenk aan ons deur u Heilige Gees die nodige krag om hierdie roeping waardig te wees. In Jesus se Naam. Amen