Neville Turley

Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.  Jesaja 9:5

God se profete is deur die Heilige Gees geïnspireer. Hulle het dapper God se wil geopenbaar. Hulle het meedoënloos die verkeerde dade in hulle samelewings deur hulle prediking en onderrig aangespreek. Hulle boodskappe is nie altyd goed ontvang nie, en baie van hulle is gemartel.

Jesaja was een van die belangrikste profete van die Ou Testament. Hy is in 765 v.C. in Jerusalem gebore en op die ouderdom van 25 het hy God se roeping om 'n profeet te word, aanvaar. (Jesaja 6:8)

Die profesieë en gebeure wat Jesaja voorspel het, is so akkuraat dat mens soms voel dat hy 'n ooggetuie van die lewe van Jesus moes gewees het. Hy skryf oor die menslike natuur van die Messias, sy maagdelike geboorte en die tweeledige aard van sy bediening.

Jesaja skryf dat die Messias sy volk geestelik sal genees en ophef. "Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is." (Jesaja 61:1)

Die Messias sal ook fisiese gebreke genees: "Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing." (Jesaja 35:5-6)

Die boek Jesaja bevat 'n magdom besonderhede en 'n mense moet dit in diepte bestudeer. In ons vers vir vandag is daar 'n reëltjie wat soms misgekyk word. Dit verwys na daardie eerste Kersfees – "aan ons is 'n Seun gegee".

Lank voor jou geboorte het God reeds jou eerste Kersgeskenk aan jou gegee. Dit is die kosbaarste geskenk wat jy ooit sal ontvang. God het jou so oneindig lief, die Vader het sy geliefde Seun aan jou gegee – die langverwagte Messias, Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Hy het sy Seun aan jou gegee sodat Hy ook jou Vader kan wees.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons sal lei om u geskenk van ewige lewe opnuut te waardeer. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus, ons Verlosser. Amen