Neville Turley

Van Dawid. 'n Psalm. Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”  Psalm 110:1

In die tyd van die aartsvaders het die Here deur sy profete baie feite oor die Messias geopenbaar. Hy sou uit 'n maagd in Betlehem gebore word, alle mense sou deur Hom geseën word en Hy sou die duiwel en die bose oorwin. Hy sou vrede aan alle nasies bring en 'n koninkryk vestig wat vir ewig sal bestaan.

Dawid, 'n afstammeling van Abraham, Jakob en Juda, het in hulle voetspore gevolg. Dawid, 'n skaapwagter wat na sy vader se skape omgesien het, het sy dae deurgebring deur liedere to komponeer om op sy harp te speel. Die profeet Samuel is deur God gestuur om hom as die volgende koning van Israel te salf. Dawid se lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.

Hy het nie onmiddellik die troon bestyg nie. Soos goud moes hy eers verfyn word. Dit was 'n tydperk wat jare geneem het en waarin Dawid lewensgevaarlike beproewings en onregverdige vervolging aan die hand van Koning Saul moes beleef. Saul se haat vir Dawid is deur jaloesie aangevuur. (1 Samuel 18:7)

Dawid het skuiling in die woestyn gesoek waar hy 'n nomadiese bestaan gevoer het en voortdurend deur Saul se troepe geteister is. Dawid was dikwels wanhopig. Hy het by die Here gepleit om hom te verlos. (Psalm 109:26)

Dikwels het hy uiting gegee aan sy gevoelens deur psalms te dig wat goddelik geïnspireer was. Sy psalms bewys ook dat bykomend tot sy baie talente, die Heilige Gees ook die gawe van profesie aan Dawid geskenk het.

In ons vers vir vandag sien Dawid met verwagting uit na die dag wanneer Christus, die Messias sal regeer. Jesus het dit aangehaal toe hy aan die Fariseërs gevra het: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Uiteindelik kon hulle Hom nie antwoord nie. (Matteus 22:41-45)

Die Here het hierdie vraag nie net aan die Fariseërs gerig nie. Hy het dit ook aan sy dissipels gevra. Die antwoord is die een wat Hy ook van elkeen van ons wil hoor. Prys die Here as jy saam met Simon Petrus kan bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16)

Gebed: Genadige Vader, deur u Heilige Gees het U Jesus as u Seun aan ons geopenbaar. Gee dat deur u genade ons wat U deur geloof ken tot u verheerliking sal leef. In Jesus se Naam. Amen