Neville Turley

Ek sal 'n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.  Dueteronomium 18:18-19

In die Ou Testament is daar geen persoon wat 'n groter impak en invloed op die kinders van Israel uitgeoefen het as juis Moses nie. Die Pentateug, die eerste vyf boeke in die Ou Testament staan bekend as die Boeke van Moses, en die godsdienstige wette word ook die Wet van Moses genoem.

Moses is tot diens van God geroep terwyl hy in die woestyn van Sinai gewoon het. Daar diep in die woestyn, het die Here vanuit 'n brandende bos met Moses gepraat. Hy het aan Moses gesê dat hy hom uitverkies het om sy broers wat in Egipte in slawerny gewoon het, na die Beloofde Land te lei.

Moses het gevoel dat hy heeltemal onbekwaam vir die taak was. “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” (Eksodus 3:11) Die Here het hom egter vir die taak toegerus. (Eksodus 4:10)

Deur Moses het God die kinders van Israel as die volk van God gevorm. Moses was hulle leermeester, hy het aan hulle die wette gegee en ten spyte van swaarkry deur hulle eie toedoen, het hy hulle na die Beloofde Land gelei.

Moses self, is egter nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie, daardie voorreg is aan Josua gegee. Kan jy jou voorstel hoe bittersoet dit vir Moses moes gewees het toe God hom wel toegelaat het om die land te sien wat hy nooit sou binnegaan nie?

Hy moes besef het dat sy taak voltooi en sy lewe byna verby was. Hy moes bekommerd gewees het oor hoe die volk sonder hom sou regkom. God het hom egter in die woorde van ons teksvers vertroos.

Deur al die probleme wat Moses ondervind het, het "Die Here [het] direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend." (Eksodus 33:11) Ons het ook daardie spesiale voorreg dat ons deur Jesus direk met God kan praat.

Wat 'n vriend het ons in Jesus.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om volgens u wil te leef. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen