Neville Turley

Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom 'n ster uit Jakob, daar staan 'n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges.  Numeri 24:17

Christene regoor die wêreld herdenk tans die seisoen van Advent, die vier Sondae wat die geboorte van Christus voorafgaan. Hierdie profesie van Bileam verwys na die Messias as 'n ster, wat die kragte van die bose wat sy volk onderdruk sal verpletter en vernietig en wat sal heers.

Bileam was 'n towenaar wat in Moab gewoon het. Die koning van Moab was bang vir die Israeliete wat op sy grense versamel het en gedreig het om, onderweg na die Beloofde Land, sy land binne te val.

Hy het die hulp van Bileam ingeroep en het hom 'n ruim beloning aangebied as hy die Israeliete sou vervloek en hulle nederlaag sou bewerkstellig. Tot die koning se woede en kommer, het Bileam egter die Israeliete geseën.

Die profesie wat uit Jakob (die huis van Juda) sou kom het aanleiding gegee tot die geloof onder Jode dat die geboorte van die Messias deur 'n helder ster aangekondig sou word.

Die wyse manne het dit ook geglo. Hulle het na Jerusalem gekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”  (Matteus 2:2)

Die profeet Miga verskaf die antwoord: "Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!" (Miga 5:1)

Koning Herodes het in die geheim aan die wyse manne vertel dat dit in die Skrif geopenbaar is dat die Christuskind in Betlehem gebore sou word en hulle het dadelik daarheen gereis.

Hulle is oorweldig deur blydskap toe hulle sien dat die ster wat hulle gevolg het gaan stilstaan het bo die huis waar die Christuskind en sy moeder, Maria, was. Hulle het neergekniel en Hom aanbid en geskenke van goud, wierook en mirre oorhandig.

Hierdie Kersfees gaan jy heel waarskynlik ook geskenke met jou geliefdes deel. Die grootste geskenk wat jy egter met hulle kan deel, is God se liefde vir hulle deur Jesus Christus, ons Verlosser en Vriend.

Gebed: Hemelse Vader, ons loof en prys U, ons aanbid U. Help ons om deur die veranderende krag van u Heilige Gees te leef soos U van ons verlang en om U te verheerlik, om Jesus ontwil. Amen