Neville Turley

Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.  Genesis 49:10

Jakob was die seun van Isak, en Abraham se kleinseun. Hy was ietwat van 'n skelm karakter en die bybelse weergawe van sy lewe draai nie doekies om oor die manier hoe hy sy broer, sy pa en sy oom vir sy eie gewin bedrieg het nie.

Jakob was 'n belangrike rolspeler in die ontwikkeling van die Israelietiese nasie. Die twaalf stamme van Israel kan almal hulle herkoms tot by die seuns van Jakob naspoor.

Op die vooraand van sy dood het Jakob aan elkeen van sy seuns vertel wat die toekoms vir hulle inhou en elkeen afsonderlik geseën. (Genesis 49:28)

Aan Juda, sy vierde seun het hy gesê dat sy nageslag oor al die stamme van Israel sal heers totdat die Messias, aan wie alle eer behoort, sy verskyning maak.

Dit het dan inderdaad waar geword. Dit was deur die nageslag van Juda dat die koninklike huis van Dawid ontstaan het.

Die apostel Matteus het toegewyd Jesus se stamboom opgeteken. Matteus was 'n tollenaar toe Jesus hom geroep het om Hom te volg en hy positief gereageer het. Lukas noem dat Matteus (Levi) opgestaan het vanwaar hy by die tolhuis gesit het, alles net so gelaat het en Jesus gevolg het. (Lukas 5:27-28)

Matteus het alles agtergelaat, maar hy het sy opleiding en ondervinding as 'n tollenaar met hom saamgeneem toe hy op Jesus se uitnodiging om Hom te volg, gereageer het. Dit het hom in staat gestel om noukeurig Jesus se stamboom na te vors en op te teken. Danksy Matteus kan ons Jesus se stamboom tot by Abraham nagaan. (Matteus 1:1-17)

Stambome in die Bybel is daardie gedeeltes wat ons dikwels oorsien en nie lees nie. Matteus bewys egter hier bo alle twyfel dat die profesieë rakende die Messias na Jesus Christus heenwys. In afronding van sy navorsing, openbaar Matteus God se volmaakte beplanning: "Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus." (Matteus 1:17)

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U 'n God van orde is. Gee dat ons deur u Heilige Gees gehoorsaam aan u wil sal wees. In die Naam van Jesus bid ek dit. Amen: