Neville Turley

Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”  Genesis 22:15-18

Die tema wat regdeur die 39 boeke van die Ou Testament herhaal word, is die belofte van die koms van die Messias na die aarde om sy koninkryk te vestig.

Die Messiaanse profesie wat aan Abraham geopenbaar is, was dat in sy nageslag al die nasies van die aarde geseën sal wees. Hy was die stamvader van die Hebreërs (Genesis 12:2). In die Bybel leer ons hom ken as 'n man met 'n groot geloof, 'n vaderfiguur en 'n gebore leier.

Abraham was 'n toegewyde man, volkome toegewyd en gehoorsaam aan God. Soveel so dat hy selfs bereid was om sy eie geliefde seun, Isak, te offer as dit was wat God van hom verlang het.

Maar God het Abraham gekeer.

Die praktyk om kinders te offer was 'n ritueel wat sommige goddelose mense in daardie dae beoefen het, maar dit is nie wat God wou hê nie. God verlang nie die dood van 'n mens nie, maar wel berou oor ons sondes. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." (Johannes 3:16)

Ons Vader verlang nie offers van ons nie. Hy wil hê dat ons van die bose moet wegdraai, ons sondes moet bely en deur Jesus Christus, ons Verlosser, sy vergifnis moet vra.

Doen ons dit sal ons bo verwagting geseën word. Die keuse is ons s'n.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees aan ons die krag sal gee om volgens u wil te leef sodat ons die seën wat U beloof het, kan ontvang. In die Naam van Jesus vra ons dit. Amen