Neville Turley

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!  Lukas 2:11

Slegs 24 dae voor Kersfees en mense skarrel rond in die winkels om alles te koop wat hulle vir die feesseisoen benodig. Baie van ons sal tuis gasheer wees vir geliefdes wat kom kuier om saam fees te vier, terwyl baie weer hul jaarlikse vakansie weg van die huis gaan geniet. Baie mense gaan ook weens faktore buite hulle beheer hierdie Kersfees alleen deurbring. Dink spesiaal aan hulle in jou gebede.

Wat ook al ons omstandighede, dit is 'n tyd van blydskap en welwillendheid. Christene regoor die wêreld herdenk in hierdie dae die geboorte van Christus die Here – en die geboorte van 'n kind is altyd 'n kosbare tyd van blydskap.

Die geboorte van Jesus was 'n langverwagte gebeurtenis. Hy was die Messias wat in die vorm van 'n mens na die aarde gekom het om die koninkryk van die Hemel onder die kinders van God te vestig.

Adam en Eva was, terwyl God hulle vir hulle ongehoorsaamheid aan Hom gestraf het, eerste om sy belofte te hoor van 'n reddingsboei wat Hy aan die mensdom sou stuur. In die bestraffing van die slang wat hulle verlei het, het God die slang se lot bepaal. "Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15)

Wie was die nageslag van die vrou wat na die aarde sou kom? Selfs al moes hy deur die toedoen van die duiwel en sy trawante ly, sou hy die kop van die slang vermorsel en as oorwinnaar uit die stryd tree.

Jesaja, die profeet vertel ons meer oor die identiteit van die nageslag van die vrou. "Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem." (Jesaja 7:14)

Die besef dat Maria se Seun, Jesus Christus, die Messias is, is die rede hoekom Christene Kersfees vier. Hy het die duiwel op Golgota oorwin en stel ons in staat om ons verhouding met God reg te stel. Baie mense weet van Jesus, maar aanvaar Hom nie as die Messias nie. Dit is egter eers wanneer hulle dit doen, dat hulle die ware betekenis en vreugde van Kersfees sal ervaar. Mag die Here gee dat dit vir baie mense vinnig waar sal word.

Gebed: Almagtige God, gee dat u Heilige Gees in die harte van mense wat U nie ken nie, sal werk. Gee dat hulle hul sondes sal bely en die ewige vrede sal ervaar. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen