Benescke Janse van Rensburg

Vandag sluit ek die Vreesloos-reeks af met ’n storie wat iets van God se hart, liefde en ook sy vermoë om ons te verras demonstreer:

Vyf jaar gelede is Kobie Barnard, ’n Vrystaatse boer van Hoopstad, se goudgeel Land Cruiser bakkie gesteel. Vir hom was dit ’n hartseer dag omdat sy geliefkoosde voertuig slegs 63,000km op gehad het. Na ’n klomp gebede om die voertuig terug te kry, het hy sy verlies aanvaar en die versekering het uitbetaal. In sy agterkop het Kobie bly wonder waar die bakkie is.

In Julie-maand vanjaar het die polisie uit Pretoria vir Kobie gebel. Hulle het sy bakkie in Rwanda opgespoor! Saam met ’n lid van die polisie en versekering het Kobie na Rwanda gevlieg om die bakkie te gaan uitken. Op ’n foto (sien onderaan) staan Kobie met ’n breë langs die geel bakkie.

In ons lewens gebeur dit soms dat ons bid oor ’n saak. Ons stort ons harte voor God uit en ons lê ons vrese en bekommernis by sy voete neer. Soms antwoord God dadelik. Ander kere nie. As ons nie dadelik ’n antwoord kry nie, is die versoeking daar om te begin voel dat Hy nie ons gebede hoor nie. Wat ons egter moet onthou is dat God buite tyd en ruimte werk. Sy tydsberekening is perfek – en soms kom verras Hy ons met ’n antwoord op ons gebede waarvan ons amper vergeet het. Dít is wat Kobie beleef het.

In Lukas 18:27 herinner Jesus ons: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” Ook Job het dit verstaan. Nadat hy alles wat hy verloor het dubbeld teruggekry het, sê Job in Job 42:2: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” Ook in Efesiërs 3:20-21 lees ons: Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe. . . ”

Wat is daardie ding wat jy al lank oor bid? Plaas doelbewus jou geloof en vertroue in God, wetend dat Hy die toekoms ken. Kom ons kies ook om vreesloos die toekoms tegemoet te stap. Onthou, God wil ons seën en soms doen Hy dit selfs op maniere vêr beter as wat ons kan bid of dink! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe in U hande kan oorlaat en werklik vreesloos kan leef. Versterk my in tye van twyfel om myself te herinner dat U waarlik die laaste sê het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Briefie van die skrywer: Baie dankie vir elke e-pos van lesers wat ek die afgelope maand ontvang het. Ek waardeer dit ontsettend baie – al is dit onmoontlik om elkeen te beantwoord. Ek wens elke leser ’n geseënde Kerstyd toe. Mag ons saam 2018 vreesloos instap! Groete, Benescke

Terugvoer: Het jy die reeks geniet? Stuur vir ons jou kommentaar na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.