Dag 21: Vreesloos na jou reus

Benescke Janse van Rensburg 


Dit is laatmiddag. In die smal vallei tussen die Filistyne aan die een kant en die Israeliete aan die ander kant, stap Dawid met sy slingervel die reus Goliat tegemoet. Binne hom draai sy maag, maar nie uit vrees nie. Sy krag lê in God. Hy het immers beleef hoe God hom in die verlede uit die kloue van ’n beer en leeu gered het. Hy weet dat God hom nooit sal verlaat nie. 

Sodra Goliat die tingerige Dawid sien, lag hy uit sy maag. “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Dit bring Dawid nie van stryk nie. Hy is gefokus. Dan antwoord hy: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel... Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf kan afkap!” (1 Samuel 17:45)

Oomblikke later verlaat ’n klip Dawid se swaaiende slingervel. Dit sink in Goliat se voorkop in, voordat hy inmekaar sak. Morsdood. 

Die Israeliete het die reus gesien. Dawid het verby die reus gekyk en vir God raakgesien. Hy het onthou wat God in die verlede vir Hom gedoen het. Ook dat God nie verander nie.

Ons almal het van tyd tot tyd reuse wat in ons nek blaas. Joune dra dalk nie ’n spies of ’n swaard nie, maar ’n kort rokkie en sy weet hoe om jou met haar verleidende woorde om haar vinger te draai – terwyl jou vrou by die huis sit. Jou reus is dalk daardie bottel alkohol wat jy onder die wasbak probeer wegsteek. Of dalk is jou reus jou vrees vir jou veiligheid, jou kinderloosheid, ’n siekte, ’n vrees om nie ’n huweliksmaat te kry nie of dalk dat jy nie aan die einde van die maand jou rekeninge sal kan betaal nie. 

Wat doen jy met hierdie vrese? Laat jy toe dat dit jou dag en nag koggel? Of neem jy standpunt in soos Dawid? Jy kan ook hierdie reuse in jou lewe soos Dawid met selfvertroue tegemoet stap: “. . . ek kom na jou in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel... Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf kan afkap!”

Begin swaai jou slingervel deur in geloof dinge uit te sny of in plek te stel omdat ons weet wie die Een is wat ons aanbid. Kom ons oordink God se beloftes en herinner onsself aan elke deurbraak wat ons in die verlede al beleef het. Soos vir Dawid sal God ons nooit in die steek laat nie. En kom ons maak gereed (in geloof) . . .  Een van die dae sal ons dalk ook nodig hê om soos Dawid vorentoe te hardloop om finaal die reus se kop af te kap wat reeds met sy neus teen die grond lê. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U my in staat stel om my reus met selfvertroue tegemoet te stap. Help my om te onthou dat U veel groter is as (noem jou reus). Gee my krag vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak beleef in jou lewe? Deel dit gerus met my en vertel my ook van watter vrese jy meer wil lees by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke