Benescke Janse van Rensburg

Langs die oop graf het die bejaarde oom gestaan en huil asof sy hart wou breek. Tannie Ralie se dood was duidelik vir hom ’n groot verlies. Die res van die roubeklaers het onderlangs na mekaar geloer. Geeneen van hulle het besef dat die twee bure in die aftreeoord só diep band gehad het nie. 

Nadat die meeste van die mense die begraafplaas verlaat het, het die predikant na oom Sarel gestap. Hy het steeds langs die graf gestaan en snik. “Oom Sarel,” het die predikant begin terwyl hy oom Sarel aan die arm gevat het. “Ek is seker tannie Ralie is nou op ’n beter plek en dat sy jou liefde geweldig waardeer het terwyl sy nog geleef het.” Hierop het oom Sarel net harder gehuil. 

Eers toe oom Sarel effens bedaar, het hy diep asemgehaal, sy kop na die predikant gedraai en gesê: “Dominee, vir jare was ek lief vir hierdie vrou. En daar was een dag. . . een dag . . . dat ek haar amper van my liefde vir haar vertel het! Maar ek het nie. . . en nou is dit te laat!” 

Ná oom Sarel se egskeiding jare vantevore, het hy uit vrees dat hy weer sou seerkry, homself voorgeneem om nooit weer sy hart vir liefde oop te stel nie. Dáár in die begraafplaas, langs tannie Ralie se graf, het hy besef dat sy vrees hom van ’n tweede kans op geluk beroof het. 

Vrees vir die “wat as” laat ’n mens passief – ’n vrees vir mislukking, ’n vrees vir verwerping, ’n vrees om te vertrou, ’n vrees om te vergewe, ’n vrees om van werk te verander of ’n belangrike besluit te neem of selfs om jou eie besigheid te begin. 

Luister egter na die woorde van die Psalmdigter in Psalm 34:5: “Ek was bang vir baie dinge, maar Hy het my van alles gered.” Ook in Psalm 94:19: “Ek was baie bekommerd, maar U het dinge vir my verander en U het my bly laat word.” In Matteus 14 lees ons dat die dissipels verskrik op die boot in die donker gesit het toe Jesus na hulle aangestap gekom het. Petrus wou seker maak dat dit Jesus was en hy het gevra of hy op die water na Hom kon kom. Hy het uit die boot geklim. Toe Petrus sien hoe sterk die wind waai, het hy bang geword. Hy het begin sink. In Matteus 14:31-32 lees ons: “Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en Hy het hom gegryp en vir hom gesê: ‘Hoekom is jou geloof so min, hoekom het jy begin twyfel?’ Hulle het in die boot geklim, en die wind het opgehou waai.”

Net soos die “wat as dinge nie reg uitwerk nie,” ons lam maak, kan die “wat as dinge wel uitwerk” ons hernude energie gee. Wat as ons wel ’n tweede kans op geluk en liefde beleef? Wat as daardie moeilike besluit die beste een in ons lewens word? Wat as die verandering van werk ons na nuwe hoogtes neem? Wat as daardie besigheid ontplof van sukses?

Kom ons vertrou dat God ons van ons vrese kan vrymaak en kom ons klim uit die boot met ons oë gevestig op Jesus om ons in die stormwinde bo-op die water te laat loop. Niks kan immers slegter wees as om soos oom Sarel langs ’n oop graf te staan of aan die einde van ons lewens te kom en te besef dat ons nooit weer ’n geleentheid sal hê om daardie kans aan te gryp nie. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat daar by U altyd tweede kanse op geluk is. Help my asseblief om U ’n kans te gee en soms te waag waar dit nodig is omdat ek weet dat U aan my kant is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak beleef in jou lewe? Deel dit gerus met my en vertel my ook van watter vrese jy meer wil lees by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke