Benescke Janse van Rensburg

Verlede Donderdag het ek ’n vreemde ervaring gehad. In een van die groot kettingwinkels wat ek besoek het, was die winkelpersoneel besig om die spesiale aanbiedinge vir Swart Vrydag uit te pak. Die winkel was propvol mense.

In die gangetjie op pad na die betaalpunt, het ’n man ’n entjie voor ons meteens die lied Eye of the Tiger begin fluit. Kliphard. Aanvanklik het ek gedink die man is net ’n jolige koper. Toe hy egter verby die pakkies chips stap, het hy een na die ander van die rak afgehaal, die oopgebars en oor die grond gestrooi. Hierna het hy ’n koeldrank uit die yskas gehaal, dit oopgemaak en daaraan begin drink. Een van die kassiere moes die paniekknoppie gedruk het, want toe die fluitende man by ’n betaalpunt kom, het twee bestuurders haastig aangestap gekom. Hulle het hom berispe. Die fluitende man het hom egter vervies en die orige koeldrank in die botteltjie oor hulle uitgegooi. Gou het een van die bestuurders die man aan die kraag beetgekry. Die sekuriteitspersoneel wat gewoonlik by die ingang van die winkel staan, het nadergestaan om te kom help. Almal se oë was op die man. Die toneel was kompleet soos iets uit ’n fliek.

Eers later is ontdek dat die fluitende man saam met ’n span mense gewerk het. Sy rol was om die aandag af te trek terwyl sy makkers die winkel beroof het. Terwyl die aandag op die fluitende man was en die sekuriteitspersoneel nie op hul pos nie, het die fluitende man se makkers ongesiens met hul buit uit die winkel geglip.

Dié insident het my laat dink aan die woorde in 1 Petrus 5:8: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” In 2 Korintiërs 11:14 lees ons dat Satan homself voordoen as ’n engel van die lig.  En in Efesiërs 4:26-27 lees ons: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”

Die vyand wil ons fokus van God afhaal. Só kan hy ons makliker op ander areas van ons lewens aanval. Hy doen dit met negatiewe gedagtes, seermaakwoorde, aanstoot, konflik, ’n onvergewensgesindheid, bitterheid en vrees. Solank as wat ons glo dat ons die reg het om kwaad met kwaad te vergeld, hoe minder gaan ons God vertrou om namens ons te veg. Hoe meer ons toelaat dat vrees oor wat moontlik met ons mag gebeur ’n houvas op ons kry, hoe minder gaan ons ons geloof in God, die Almagtige Skepper, plaas om ons Beskermer te wees.

Waarop fokus jy vandag? Waaraan dink jy dit meeste? Glo jy dat God, die Regverdige Regter, namens jou die oordeel kan fel as iemand jou seergemaak het of maak jy self konstant planne om kwaad met kwaad te vergeld? En kies jy om jou geloof in God, ons Beskermer, te plaas om jou en jou geliefdes veilig te hou, of het jy toegelaat dat vrees ’n houvas op jou kry? Onthou, vir die wat die koninkryk van God eerste soek, sal alles bygevoeg word. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my Almagtige Vader is. Help my om onverskrokke my geloof en vertroue in U te plaas, wetende dat U die finale sê het in elke saak. Beskerm my asseblief sodat vrees nie langer ’n houvas op my sal hê nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak beleef in jou lewe? Deel dit gerus met my en vertel my ook van watter vrese jy meer wil lees by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke