Benescke Janse van Rensburg

Een van my vriende het onlangs vir sy 3-jarige seuntjie, Janco, met sy verjaarsdag ’n stel elektriese karretjies gekoop. Groot was die opgewondenheid toe Janco die geskenkpapier afskeur en die boks sien. Dinge het egter gou verander toe sy pa die boks oopmaak en die stukke begin uitpak. Skielik was Janco in trane. “Hoekom lyk dit wat binne die boks is dan nie soos die prentjie op die boks nie?” wou hy weet. Hoe meer sy pa aan hom probeer verduidelik het dat hy die stukke eers aanmekaar moet sit, hoe harder het Janco gehuil.

Eers toe die baan en die karretjies later op die mat opgeslaan staan, het Janco verstaan. Sy glimlag was terug en die trane vergete.

In ons lewens is ons soms soos Janco. As dinge nie dadelik uitwerk soos wat ons gehoop het dat dit sou nie, is ons kwaad of in trane. Die verhouding eindig. Die gestremde kind word gebore. Ons word by die werk afgelê. ’n Geliefde sterf. ’n Swangerskap eindig in ’n miskraam. Of die regering lyk of dit uitmekaarval. Omdat ons net ’n gedeelte van die prentjie sien, kan ons maklik depressief of bekommerd raak. Dit kan ons in vrees laat leef, veroorsaak dat ons God blameer of selfs ons rug op Hom keer.

In 1 Korintiërs 13:12 herinner Paulus ons: “Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.Ook in Jesaja 46:9-10 sê God: “Ek is God, daar is geen ander nie . . . Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.” En in Psalm 139:16 lees ons dat God ons geken het voor ons geboorte: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

God bly in beheer van ons lewens, ons toekoms en ook ons land. Sy prentjie “op die voorkant van die boks” vir ons is dat ons ’n lewe in oorvloed sal beleef. Hy het immers planne van voorspoed en nie teëspoed vir ons nie. As Hy dus sê dat Hy die einde van die begin ken en dat ons ons geloof en vertroue in Hom kan plaas, is dit presies wat ons moet doen.

In Zimbabwe het mense dae aaneen gebid dat God ’n deurbraak sal bewerkstellig. Hy het. In Suid-Afrika word vandag tussen 13:00 en 16:00 by die parlement gebid. Mag ek jou uitnooi om saam te bid? Of jy dit doen in jou motor op pad na ’n afspraak, in die lang tou waar jy wag om vir jou winskopies op Swart Vrydag te betaal, waar jy saam met jou gesin om die tafel sit of waar jy dalk om die blok gaan draf.

Kom ons vra dat God sy heerskappy oor ons land sal laat neerdaal. Kom ons vra Hom om goddelike leiers op te rig en hul in staat te stel om met integriteit besluite te neem. En ook in ons persoonlike lewens, kom ons vra dat God ons sal help om Hom in elke seisoen te vertrou – al lyk en voel dit ook soms of wat ons beleef glad nie dieselfde is as die prentjie op die voorkant van die boks nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Help my asseblief om in onseker tye my geloof in U te vestig, eerder as om toe te laat dat vrees en bekommernis my oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

·         Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak in jou lewe beleef waaroor jy wil getuig? Of wil jy saamgesels oor die huidige tema? Doen dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke