Benescke Janse van Rensburg

Vyf minute. Dít is min of meer hoeveel tyd ’n vrywilliger tydens die Samaritan’s Feet uitreikaksie het om saam met elke laerskoolkind te spandeer. In dié vyf minute gesels die vrywilliger met die kind, was hul voete, bid saam met hul en trek dan ’n splinternuwe paar skoene aan die kind se voete. Vir ’n klomp kinders in dié behoeftige skole, is dit hulle heel eerste nuwe paar skoene. Die dankbaarheid raak jou hart.

’n Paar weke gelede het die Samaritan’s Feet span Bonteheuwel Primêr besoek. Bonteheuwel is ’n area op die Kaapse Vlakte bekend vir armoede en bendegeweld. ’n Paar oggende gelede het skoolsekretaresse, Lindsey Cupido, tydens ons radioprogram kom vertel watter effek dié uitreik op die skoliere gehad het.

Lindsay het onder meer vertel dat sy ’n week voor die uitreikaksie ’n gesprek met een van hul laerskoolseun gehad het. Die seun is ’n alombekende moeilikheidmaker en reeds uit sy vorige skool geskors. Tydens hul gesprek het die seun trots sy jongste tatoeëermerk gewys. Wetend dat sy pa en ooms by bendes betrokke is en dat sy ma ’n dwelmverslaafde is, het Lindsay hom gevra wat hy beplan om met sy lewe te doen na skool. Die seun het gelag en gesê dat hy nie beplan om skool klaar te maak nie. Hy wil, soos sy familie, ’n bendelid word. Dit is al wat hy ken.

’n Dag ná die uitreik, het Lindsay die seun weer raakgeloop. Sy kon dadelik ’n verandering by die seun opmerk. Op die vraag wat sy ervaring van die uitreik was, was hy verbasend positief. Dié keer het die seun hul gesprek afgesluit met die woorde: “Juffrou, ek dink nie ek wil meer ’n bendelid word nie. Ek gaan skool klaarmaak en dan ’n polisieman word. Ek wil soos hierdie mense wees wat hier was.”

’n Vyf minute gesprek was genoeg om saad van hoop in sy hart te laat val. ’n Alternatiewe toekomsvisie is aan hom gebied. En ’n mens kan net wonder watter langtermyneffek hierdie vyf minute gesprek op sy toekoms sal hê.

Wat my getref het, is dat die vrywilliger wat daardie dag vir die seun gebid het, heel moontlik nie sy situasie geken het nie. Die vrywilliger was bloot beskikbaar om saad van hoop en liefde in die seun se lewe te saai. Die grond was gereed.

In 1 Korintiërs 3 herinner Paulus ons dat sommige van ons geroep is om saad te saai, ander om dit nat te gooi en nog ander om die oes in te bring. In vers 7 lees beklemtoon hy die volgende: Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.” God doen die werk in lewens deur sy Heilige Gees. Ons moet net gehoorsaam wees wanneer Hy ons lei om sy hande en voete te wees.  

Daagliks is daar geleenthede oor ons pad waarin ons saad van hoop en liefde kan saai – in die werkplek, in die gemeenskap en selfs in die winkel waar ons kruideniersware gaan koop. Ons het ’n keuse of ons dit gaan gebruik en of ons gaan toelaat dat vrees dat ons gaan misluk of dat ons simpel gaan lyk ons oorweldig. ’n Vyf minute gesprek op die regte tyd kan ’n lewe verander. Dit het heel moontlik vir ’n jong seun in Bonteheuwel. Kom ons kies om vandag om saad saaiers met selfvertroue te wees! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ons almal ewe lief het. Help my om asseblief die geleenthede vandag raak te sien waar U my as u instrument wil gebruik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Lindsay Cupido en videos van ’n Samaritan’s Feet uitreikaksie waarby ons onlangs betrokke was by www.benescke.co.za
  • Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak beleef in jou lewe? Deel dit gerus met my en vertel my ook van watter vrese jy meer wil lees by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke