Deur Benescke Janse van Rensburg

Daar is een deug wat maklik as ’n swakheid bestempel word. Tog veroorsaak hierdie deug dat ons God se teenwoordigheid die meeste in ons lewens ervaar. Hierdie eienskap onderskei ons van die wêreld. En alhoewel dit soms moeilik is om dit uit te leef, is dit keer op keer die moeite werd. Nederigheid.
 
In Jakobus 4:6 lees ons:  “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” In Psalm 138:6 lees ons dat God naby is aan die nederige, maar sy afstand hou van hoogmoedige mense. In Mattheus 5:5 staan geskryf: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” En in 1 Petrus 5:5-6: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.”
 
Hoe word nederigheid in ons lewens getoets? Op ’n verhoog voor ’n klomp mense? Nee. In die kerk tussen gelowiges? Nee. Ons nederigheid word getoets wanneer ’n stadige bestuurder ons in die verkeer afsny terwyl ons haastig is na ’n belangrike afspraak. Wanneer die kassier vir ons verkeerde kleingeld gee by die betaalpunt of wanneer iemand per ongeluk in die winkel aan ons stamp. Hoe ons reageer, wys wat in ons harte aangaan.
 
Nederigheid is ’n gesindheid. ’n Ingesteldheid. Dit beteken dat ons na die goud in mense en situasie soek. Dit beteken dat ons op die uitkyk is na maniere om ander te dien en lewens te verbeter, eerder as om net te fokus op ons eie voordeel. Ons bewys genade en demonstreer Jesus se liefde aan ander die beste wanneer ons kies om te komplimenteer eerder as om te kritiseer. Wanneer ons ’n drukkie gee, eerder as om iemand uit te skel. En wanneer ons wel daardie moeilike gesprekke moet hê, kies ons om dit in liefde te doen.
 
Nederigheid beteken nie dat ons ander toelaat om op ons te trap nie. Eerder dat ons so seker is van wie ons in Jesus Christus is, dat ons besef dat dit nederigheid is wat ons sterk maak. In Johannes 13:15 sê Jesus: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Hy is die Verlosser van die wêreld en steeds het Jesus gekies om sy dissipels se voete te was – die werk van ’n slaaf.
 
Kom ons kies vandag nederigheid deur Jesus se lig in hierdie gebroke wêreld te skyn. Kom ons wees goed vir die mense om ons terwyl ons soek na geleenthede om ander te dien. En kom ons soek vir die goud in elke mens en situasie. Nederigheid is nie swakheid nie. Dit is juis dít wat veroorsaak dat ons God se teenwoordigheid in ons lewens beleef. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat U almagtig is. Help my om te verstaan wat nederigheid is en wys my waar in my lewe ek nog aan my eie gesindheid moet werk. Wys my hoe ek vandag U lig kan skyn en waar ek ander kan dien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien nog skrifgedeeltes oor nederigheid by www.benescke.co.za 

·         Terugvoer: Het jy onlangs ’n deurbraak in jou lewe beleef waaroor jy wil getuig? Of wil jy saamgesels oor die huidige tema? Doen dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke