Benescke Janse van Rensburg

Dit is iets wat ons almal in gemeen het, ’n vooruitsig wat ons deel. Tog, omdat nie een van ons dit al ooit beleef het nie, laat dit ons soms ongemaklik en selfs vreesagtig voel. Die dood.

Die afgelope jaar het ek toegekyk hoe mense rondom my van geliefdes afskeid neem – ’n ouer, ’n grootouer, ’n huweliksmaat, ’n vriend of vriendin en selfs ’n kindjie. Telkens tref dit my hoe seer daardie laaste afskeid is – of dit totaal onverwags gekom het óf na ’n lang en uitgerekte siekbed. Wanneer net die mooi herinneringe oorbly, besef ’n mens opnuut hoe kort die lewe eintlik is in vergelyking met die ewigheid na die dood.

’n Paar lesers het my gevra om iets te skryf oor hul vrees vir die dood. Die bekende doof en blinde skrywer en aktivis, Helen Keller het die proses van dood só beskryf: “Om te sterf is niks meer as om van een kamer na die volgende te beweeg nie. Vir my is daar wél ’n verskil: In die tweede kamer sal ek kan sien.”

In Openbaring 7:16-17 word die hemel beskryf as ’n plek van volkome geluk: “Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en 'n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.” Ook in 1 Korintiërs 2:9 lees ons: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”

In die hemel is geen hartseer en pyn nie. Net volkome vryheid en genesing. Dit is ’n plek waar ons volkome geluk en liefde sal ervaar in God se teenwoordigheid. Juis hierom sal ons Hom tot in ewigheid wil prys en aanbid.

Is dit normaal om hartseer te wees as jou geliefde sterf? Natuurlik. In God vind ons egter die hoop dat ons weer met mekaar sal verenig. In die wagtyd is die Heilige Gees daar om ons te vertroos. Is dit normaal om bang te voel om te sterf? Ja, maar ons vind ook ons berusting daarin dat Jesus namens ons gesterf het om ons vry te maak van hierdie vrees. In Hebreërs 2:14-15 lees ons: “Jesus het ’n mens geword sodat Hy al die mense vry kon maak wat hulle hele lewe lank soos slawe was omdat hulle bang was om te sterf.” (Die Bybel vir Almal) Omdat Jesus ons vrygemaak het en ons in vryheid kan leef, kan ons soos Paulus in Filippense 1:22-23 sê: “. . . om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

As ons glo dat ons deur ons geloof in Jesus Christus die ewige lewe kan beërwe, hoef ons nie meer bang te wees vir die dood nie. Ons kan uitsien na ’n ewigheid saam met Hom. Dit is dan dat ons met selfvertroue kan oorstap van een kamer na die volgende en ook kan sê dat om te lewe is vir ons Christus is en om te sterwe, ’n wins. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek nie meer hoef te vrees vir die dood nie, omdat ek my geloof en vertroue in U plaas. Ek herken vandag opnuut dat ek glo dat U Seun, Jesus Christus die verlosser is en dat Hy vir my aan die kruis gesterf het en opgestaan het sodat ek nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan beërwe. Vul my asseblief met vrede en rustigheid by die wete dat ek aan U behoort. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke