Deur Benescke Janse van Rensburg

In Indië het ’n trein onlangs uit ’n stasie vertrek. Eers toe dié sowat 13km weg was, het die stasiemeester besef dat die trein sonder ’n drywer vertrek het. Hy het dadelik op sy bromponie gespring en die trein agterna gesit. Met ’n “James Bond”-sprong het hy van die bromponie tot in die kajuit gespring. Hier het hy beheer oor die trein geneem en dit veilig na die volgende stasie geneem.

Sonder ’n treindrywer kon die trein enige roete inslaan – met katastrofiese gevolge. Net so, as ons nie beheer oor ons gedagtes neem nie (veral vreesgedagtes), het dit ook potensieel slegte gevolge. Vreesgedagtes maak ons lam. Dit word al waaroor ons dink en praat. Dit beroof ons van ons geloof in God. 

Op verskeie plekke in die Woord lees ons dat ons beheer oor ons gedagtes moet neem. In Romeine 12:2 staan geskryf: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” In 2 Korintiërs 10:4-5 lees ons: “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God . . . Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” Om ons gedagtes gevange te neem is dus een van die kragtigste wapens in ons stryd teen die vyand. Nou, waarop moet ons fokus? In Filippense 4:8 lees ons: “. . .alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Watter krisis staar jy in die oë? Is jy bang dat jy eendag alleen sal moet oud word? Is jy bang dat jy nie vir jou gesin sal kan sorg nie? Is daar gerugte van afleggings in julle maatskappy? Is jy bang dat jou huwelik in ’n egskeiding sal eindig? Is jy bekommerd oor jou eie of jou geliefdes se veiligheid? 

Alhoewel bogenoemde krisisse ’n realiteit is, het ons steeds ’n keuse hoe ons daarop gaan reageer. Gaan ons ons gedagtes laat weghardloop soos die onbemande trein? Of neem ons soos die stasiemeester ’n waagsprong in geloof deur beheer oor ons gedagtes te neem omdat ons die Een ken wat ons vertrou en wat in beheer is van ons lewens? Vrees en geloof. Dít is ons elkeen se keuse vandag. Wat gaan jy kies? Sterkte.


Vader God, baie dankie dat U konstant by my is deur u Heilige Gees. Lei my asseblief om nie vas te kyk in die “wat as” nie, maar om my oë op U te vestig met die wete dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

• Sien foto van stasiemeester by die trein wat hy gestop het by www.benescke.co.za

• Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke