Benescke Janse van Rensburg

Ná gister se dagstukkie het verskeie lesers my vertel van hul stryd om te vergewe. Een het vertel hoe sy sukkel om haar pa te vergewe wat haar ma konstant emosioneel aftakel. ’n Ander hoe sy sukkel om die dokter te vergewe weens nalatigheid met haar man se operasie. En nog ’n ander het vertel hoe sy sukkel om die persoon wat hul huwelik opgebreek het te vergewe.

’n Tydjie gelede het ek ’n videogreep gesien van ’n klein seuntjie met opblaasvlerkies wat probeer om ’n koekie wat in sy hand is in sy mond te kry. Alhoewel hy alles in sy mag probeer, bly die vlerkies in die pad! Later is hy genoodsaak om die aftog te blaas.

In ons lewens kan ’n onvergewensgesindheid in ons harte met hierdie opblaasvlerkies vergelyk word. Alhoewel God vir ons die potensiaal om ’n “lewe in oorvloed” te beleef in ons hand sit (soos die koekie), is dit onmoontlik om dit werklik te smaak sonder dat ons ontslae raak van ons onvergewensgesindheid.

Ons almal moes al iemand in ons lewens vergewe wat ons seergemaak of teleurgestel het. Dit kan jou huweliksmaat wees, ’n ouer, ’n kind, ’n kollega, iemand wat jou geld gesteel het, ’n derde party wat jou huwelik opgebreek het, ’n buurvrou of selfs jou beste vriendin. Wanneer iemand naby aan ons ons seermaak, tref dit veral die hart. Hoe langer ons vat voordat ons vergewe, hoe moeiliker word dit. Dít is waar die vyand ons wil hou. ’n Onvergewensgesindheid beroof ons van ons lewensvreugde. Soos ons bitterheid groei, word die “opblaasvlerkies” aan ons arms groter wat dit al moeiliker maak om waarlik gelukkig te wees.

In Kolossense 3:13 lees ons: Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” Ook in Efesiërs 4:31-32 staan geskryf: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” En dan in Efesiërs 4:27 vind ons die rede waarom ons nie die dag moet kwaad afsluit nie: “Moenie die duiwel ’n vatkans gee nie.”

As jy sukkel om te vergewe, is daar vyf stappe wat jy kan oorweeg: Stap 1: Herken dat jy sukkel. Stap 2: Praat met God daaroor. Stort jou hart voor Hom uit en vra Hom vir wysheid hoe jy die situasie moet hanteer. Stap 3: Luister wat die Heilige Gees in jou hart kom lê en wees gehoorsaam. Stap 4: Kies om die persoon in God se hande te plaas. Haal só die vlerkies van jou arms af. Stap 5: Bid vir daardie persoon. Bid dat God hom of haar aanraak sodat hulle Hom werklik sal leer ken. (Stap 5 is gewoonlik aanvanklik moeilik. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker sal dit word.)

Deur iemand te vergewe beteken nie dat jy hom of haar vryskeld om die gevolge te dra van wat hulle gedoen het nie. Dit beteken wel dat jy kies om terug te staan sodat God namens jou kan veg. Deur te vergewe kies jy vryheid, ’n groter mate van geluk en rustigheid in jou hart. Jy kies ook om die opblaasvlerkies af te haal sodat jy werklik daardie lewe in oorvloed kan smaak. Is dit maklik? Nee. Is dit die moeite werd? Altyd. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is. Help my asseblief om (noem die naam) te vergewe vir (noem vir wat). Raak asseblief ook (noem persoon se naam) aan deur u Heilige Gees sodat hy/sy werklik sal weet wie hulle is. Ek lê dit nou voor U voete neer. Ek bid hierdie in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien video van klein seuntjie wat sukkel om koekie te eet by www.benescke.co.za of op die sosiale media Facebook bladsy, Stories van Hoop.
  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke