Benescke Janse van Rensburg

Dit was ’n donker tyd in die geskiedenis van Israel. Manasse was die koning. Waar sy pa, Hiskia al die afgodsbeelde in die land afgebreek het, het Manasse dit weer laat opbou. Waar Hiskia die volk gemaan het om na God terug te draai, het Manasse gekies om die son, maan en sterre te aanbid. Hy het selfs sy eie seun as offer vir die afgode verbrand! Hierby het hy homself met goëlery, waarsêery en toordery besig gehou en in die tempel van God ’n afgodsbeeld laat oprig – dit is dieselfde tempel waar God se teenwoordigheid eens so tasbaar was dat die priesters nie kon staande bly nie. In 2 Konings 21:6 lees ons dat Manasse met sy optrede vir God uitgetart het.

Verskeie profete het Manasse gewaarsku om weg te draai van sy verkeerde weë, maar hy het geweier. Die gevolg van sy ongehoorsaamheid was dat die koning van Assirië se weermag Manasse gevange geneem het, hakke deur sy neus gesteek het en hom geboei na Babel gelei het.

In die tronksel in Babel was Manasse alleen. Hy was verneder, gestroop van sy koninklike mag met geen vooruitsig om ooit weer vrygelaat te word nie. As ’n mens die storie lees, voel jy of dit sy verdiende loon is. Hy wou mos nie luister nie.

Dan is daar ’n wending. In die tronksel, met geen bravade, kniel Manasse vir die eerste keer met ware berou voor die enigste lewende God. In 2 Kronieke 33:12 lees ons: Toe dit met hom (Manasse) so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, en gebid. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is.”

Dan in Psalm 86:15 skryf die Psalmdigter: “U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” God is ’n regverdige, maar ook ’n genadige God wat ons vergewe as ons waarlik berou het. Die vraag is of ons dieselfde barmhartigheid en genade aan ons medemense betoon?

Manasse het met ware berou na God teruggedraai en vergifnis, genade en hoop ervaar. Of jy vandag daardie tipe vergifnis benodig en of jy dalk sukkel om iemand anders te vergewe wat jou seergemaak het, praat met God oor die saak.  Hy is barmhartig en genadig. Hy vergewe, maar stel jou ook in staat om te vergewe omdat Hy wil hê dat jy in vryheid en met hoop moet kan leef. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u genade en vergifnis. Help my asseblief om nie weer terug te gaan na my ou wee nie, maar om werklik in U weë te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.