Benescke Janse van Rensburg

Agtergrond: Was jy al ooit bang dat jy soos Job iets sou verloor wat vir jou geweldig spesiaal is? Sal jy God aanhou loof en prys al maak jou verlies nie sin nie? Een van die lesers, Annelene Van Wyk van Zastron in die Vrystaat, het vroeër die getuienis aan my gestuur:

Annelene: “Waar ons in die Suid-Vrystaat woon, is die laaste gedeelte van die jaar geken vir gevare van veldbrande. In September vanjaar het ons ook deurgeloop.

Op die dag wat die brand uitgebreek het, was my man, Kobus en ’n werker in die brand vasgekeer. Hulle kon nie sien wat alles brand nie en ek was hul ‘oë’ deur heeltyd met hulle te praat. Kobus was geweldig bekommerd oor die beeste op ons plaas. Terwyl ek op en af op die plaas gery het, het ek heeltyd vir die mans en die vee se veiligheid gebid. Dit was al wat ek kon doen.

Die skrif van Habakuk 3 het by my opgekom. In dié skrif getuig Habakuk dat hy God nogtans sal aanbid al het hy alles verloor. Die vraag in my hart was of ons God nogtans sal aanbid al brand ons hele plaas af? Dit was ’n realiteit en om hierdie vraag te beantwoord uiters moeilik in daardie oomblik. ’n Mens sê mos maklik dat jy die Here in alle omstandighede sal aanbid – net tot die krisis voor jou staan. Met trane wat oor my wange stroom, het ek vir God gesê dat ek Hom nogtans sal aanbid.

Daardie aand, toe die vlamme deur die plaas is en ek en Kobus weer bymekaar is, het hy gery om die beeste te gaan soek. Die veld was pikswart gebrand. Sowat 80% van die plaas se weidingsveld het afgebrand wat geweldige skade is. Groot was my man se verbasing toe hy die beeste ongedeerd kry. Die vuur het letterlik ’n sirkel reg rondom hulle gebrand, maar hulle was veilig. Dit was ’n wonderwerk. Die ander stukkie plaas wat gespaar is, is ’n gedeelte waarop ons verlede jaar ’n kruis gaan plant het.

My hart is vol dankbaarheid vir God se beskerming en voorsiening. Ten spyte van die verlies is daar steeds ’n lied in my man se hart. Van die ander boere in ons omgewing het weiveld vir ons diere aangebied. Ek weet alles sal weer regkom. Alle eer aan Hom.”

Beide Job en Habakuk het ook groot verliese in hul lewens beleef. Tog, luister na Job se reaksie in Job 1:21 waar hy op die ashoop sit: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Hy het God nooit verwyt nie. Ook Habakuk het rede gehad om te kla terwyl hy deur ’n moeilike tyd gegaan het. In Habakuk 3:17-18 sê hy egter: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

Al verstaan ons nie altyd waarom sekere dinge ons pad kruis nie, kan ons weet dat ons deur elke krisis vreesloos vorentoe kan stap omdat God reeds daar is. Sy wysheid, beskerming en voorsiening is soms heelwat meer sigbaar reg rondom ons sodra ons ons oë daarvoor oophou. Sterkte.


Vader God, baie dankie dat ek my lewe in U hande kan oorgee. Maak my sterk sodat ek ook kan aanhou om U nogtans te loof en te prys te midde van my pyn en verlies. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke