Benescke Janse van Rensburg

Verlede Vrydagoggend tydens spitsverkeer was Amanda Fojo, ’n Kaapstadse verkeerspolisiebeampte besig om ’n boete vir ’n taxibestuurder uit te skryf. Meteens het ’n ander motoris aangedui dat sy Amanda se hulp dringend benodig. Amanda het nadergestap en geskok besef dat die motoris in kraam is. Haar versoek was dat Amanda haar deur die druk verkeer na die hospitaal moes begelei.

Amanda het die kraamproses vinnig geëvalueer en besef dat die vrou reeds te vêr ontsluit het. Sy sou nie die hospitaal haal nie. Amanda het ’n skoon hemp uit haar motor gaan haal, die vrou na haar agterste sitplek geskuif en toe die mans weggestuur sodat die vrou in kraam gemakliker sou wees. Dit was nie lank nie of Amanda het die vrou in kraam gehelp om haar gesonde babaseuntjie te vang!

Op die vraag hoe Amanda dit reggekry het om so gemaklik op te tree, het sy gesê: “God het my die wysheid gegee. Dit was kompleet of Hy daar reg langs my was. Al wat ek kon doen, was om te bid, bid en nogmaals bid.” Ná die geboorte het die paramedici op die toneel opgedaag en die ma en baba na die hospitaal geneem.

Nooit sou Amanda Vrydagoggend toe sy opgestaan het, kon raai dat sy ure later, in die middel van die spitsverkeer die vreesaanjaende proses om ’n baba te vang sou moes deurmaak nie. Dit kon baie sleg geëindig het. Net so tref uitdagings of hindernisse ook soms onverhoeds ons pad. ’n Siekte, die skielike dood van ’n geliefde, ’n uitdaging in die huwelik of met ’n kind. Hierdie onverwagse situasies kan ons óf totaal paniekbevange maak of rustig wanneer ons onthou wie die God is wat ons aanbid.

In 1 Kronieke 16:11 lees ons: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.” In sy teenwoordigheid is daar rustigheid en kalmte. Ook in Spreuke 3:5 lees ons: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” En in Jakobus 1:5 staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee. . . ”

Was God deur sy Heilige Gees by Amanda langs die besige pad? Verseker. Het Hy haar hulpgeroep gehoor. Natuurlik. Dit is Hy wat haar met vrede gevul het.

Kom ons ken God reeds vroeg in die dag in al ons weë met die wete dat Hy dan ons pad gelyk sal maak. Hy ken die einde van die begin en kan aan ons die nodige wysheid en rustigheid in elke storm gee. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor en verhoor. Vul my asseblief vandag met wysheid en lei my op die regte pad. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke