Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede het Kalifornië in Amerika, net soos Knysna vroeër vanjaar, een van die ergste brande in dekades beleef. Reddingswerkers het gesukkel om die sowat 8442 aangemelde brande onder beheer te kry. Honderde mense het hul huise verloor en 42 mense hul lewens.

In die proses om die brande onder beheer te probeer kry, het die reddingswerkers ’n spesiaal aangepaste Boeing 747, gevul met ’n vlamwerende poeier uitgestuur. Die poeier is oor ongeskonde gebiede in die nabye omgewing van die brande gestrooi om te verhoed dat die brande verdere skade aan die wingerde aanrig. Die oomblik dat die brande die poeier bereik het, is dit aansienlik geblus.

Elke dag het ons drie kanne voor ons: ’n kan olie, ’n kan sand en ’n kan poeier. Wanneer ’n “brand-situasie” ons pad kruis in die vorm van flankering van iemand buite ons huwelik, ’n konfliksituasie by die werkplek of by die huis of as vriende ons vrees aanblaas oor ons land se toekoms, het ons ’n keuse om die gesprekke óf met die kan olie aan te blaas en te vererger óf ons kan dit blus met die kan sand omdat ons die Een ken wat die heelal in sy hande vashou.

Dan is daar die kan poeier. Net soos die spesiaal aangepaste Boeing 747 vooraf die poeier as ’n voorsorgmaatreël gestrooi het en só die vuur makliker geblus het, het ons ook nodig om vooraf keuses te maak oor hoe ons gaan optree sou ’n “brand-situasie” ons tref. Hoe gaan ons dit hanteer as iemand ons vandag warm onder die kraag laat? Of as jou kollegas kla oor die werksomstandighede? Wat gaan jy doen as iemand ’n lekker skinderstorie vertel of as iemand buite jou huwelik met jou flankeer? Wat gaan ons reaksie wees as ’n besigheidsvennoot ’n transaksie voorstel wat jou jou integriteit gaan laat inboet? En wat gaan jou reaksie wees die volgende keer as iemand sê dat daar nie hoop vir ons land is nie? Glo ons steeds dat God in beheer is van ons lewens en ook ons land se toekoms?

In Matteus 5:9 lees ons: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Ook in Romeine 12:18 staan geskryf: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En in Hebreërs 12:14 lees ons: Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Ons elkeen het vandag drie kanne voor ons: Olie, sand en poeier. Kom ons sit die olie neer, tel die sand op en blus die vure waar ons gaan. Kom ons span ook die poeier in deur daardie “vooraf-besluite” te neem. Voorsorg is immers altyd beter as nasorg. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U Woord en beloftes. Help my asseblief om ’n vredemaker te wees en ook vooraf die regte besluite te neem voordat moeilike “brand-situasies” my pad kruis. Vergewe my ook asseblief vir elke situasie waar ek onnodig die olie op die vuur gegooi het deur dit te vererger. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Watter moeilike situasies is daar gereeld in jou lewe? Kom ons kies vandag hoe ons dit volgende keer gaan hanteer.
  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke